Deur Everson Luhanga
Dr Nandipha Magudumana se pa, Cornelius Sekeleni, en ’n voormalige G4S amptenaar, Senohe Matsoara, is aangekla van moord, brandstigting, regsverydeling en bedrog.
Die tweetal word verbind met die saak van die veroordeelde verkragter en moordenaar Thabo Bester se ontsnapping uit die tronk. Bester het ontsnap nadat hy sy eie “dood” nageboots het met die hulp Magudumana, na bewering sy lewensmaat.
Sekeleni en Matsoara het Dinsdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn ná hulle inhegtenisneming in die naweek.
Die aanklaer het die hof meegedeel dat die staat met die aangeklaagdes se regsverteenwoordigers ooreengekom het om hulle borgtog-aansoek tot 17 April uit te stel.
Daar was ’n groot mediateenwoordigheid by die hof.
Nandipha se pa het ’n blue hoodie aangehad en was skoongeskeer. Sy mede-aangeklaagde het ’n warm grys bostuk gedra.
Bester is verlede week Dinsdag in Tanzanië aangekeer.
Die voortvlugtige was saam met Nandipha en ’n Mosambiekse burger tydens sy arrestasie.
Suid-Afrikaanse owerhede is in Tanzanië om die aangekeerdes se terugkeer na Suid-Afrika te bewerkstellig.
In die foto hierbo: Dr Nandipha se pa, Cornelius Sekeleni, en ’n voormalige tronkamptenaar, Senohe Matsoara
Fotobron: Twitter