Deur Anita Dangazele
Ontvoering vir ’n losprys styg vinnig in die Oos-Kaap. Die jongste misdaadsyfers toon ’n kommerwekkende toename, met 232 gevalle tussen Oktober en Desember 2022 – meer as 50% hoër as in die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar.
Daar is geen aanduiding dat die pas afneem nie. Net twee weke gelede is die 26-jarige Riana Pretorius ontvoer toe sy by haar werk in Newton Park, Gqeberha, aangekom het. Drie mans het haar na bewering genader en in die kattebak van ’n wit Toyota Corolla geprop, oop en bloot voor haar kollegas.
Pretorius is ’n week of wat gelede losgelaat nadat ’n losprys van R1.1 miljoen aan haar ontvoerders betaal is. Sy is agt dae lank aangehou.
Die Valke se provinsiale segspersoon, Kaptein Yolisa Mgolodela, het gesê tot dusver is twee verdagtes in hegtenis geneem en aangekla in verband met Pretorius se ontvoering.
“Die eerste verdagte is op die dag van die ontvoering vasgetrek ná ’n polisie-jaagtog. Die tweede verdagte is laas Woensdag gevang en sal op 5 April in Gqeberha se landdroshof verskyn,” het sy gesê.
Net ’n paar van die gevalle het die nuus gehaal.
’n Veertigjarige Chinese winkeleienaar is by haar besigheid, wat sy saam met haar man in Gqeberha se Zwide township bedryf, ontvoer. Die boosdoeners het R20 miljoen vir haar vrylating geëis, enkele ure ná die ontvoering.
Die familie het nie die losprys betaal nie. Die vrou het haar ’n dag na die voorval losgemaak. Sy het tot die aand gewag en toe deur ’n venster ontsnap, oor ’n muur geklim en met ’n geleende foon om hulp gebel.
Omtrent 800 km weg is ’n ander sakeman, Hilton Wicks, 24, ontvoer en drie dae lank aangehou voordat hy op Keibrug, wat in die verlede die grens tussen Transkei en Ciskei was, vrygelaat.
Die Wicks-familie besit verskeie besighede in Ugie en Nqanqarhu, vroeër bekend as Maclear, onder die KwaWicks vaandel, wat ’n Spar, ’n Build it en ’n vulstasie insluit.
Min slagoffers is so gelukkig. Die Baaise sakeman Ashraf Laher, 45, is laas op 19 Oktober gesien, toe gewapende mans in Korsten in die bakkie geklim het wat hy bestuur het en met hom weggery het.
Die polisie het ’n 72-uur aksieplan in werking gestel en bykomende bronne by die soektog betrek, en die Valke het later die soektog oorgeneem, sonder welslae.
’n Aspirantaktrise, Nicole Swartz, 26, het op 9 November uit haar huis in Gelvandale verdwyn en is nie weer gesien nie. Haar ouers het gesê sy was nog in die bed toe hulle die oggend werk toe is. By hulle terugkeer het hulle die huis leeg aangetref met die deur wawyd oop en ’n koppie koffie en ’n kosbakkie op die kombuistoonbank.
Daar is nie ’n losprys van die gesin geëis nie.
Nog ’n aspirant-akteur, Almonré Roman, 19, het op 5 Desember verdwyn nadat hy buite Pick n Pay in Despatch in ’n wit VW Kombi geklim het.
In die daaropvolgende dae het sy pa, Wesley Uithaler, ’n losprys-eis vir R220 000 in ’n teksboodskap ontvang, saam met ’n dreigement dat sy 12-jarige dogter ook ontvoer sal word. Almonré is nog nie gevind nie.
In die foto hierbo: ’n Verlate skoen
Fotobron: Anita Dangazele