Deur Dylan Bettencourt
Al is dit deur verskeie rooi vlae ontsier, was die Melbourne Grand Prix in Australië een van die land se opwindendste renreekse.
Die Australiese Grand Prix was vir etlike jare ‘n saai affêre en het selfs die gevaar geloop om van die kalender af geskrap te word.
Veranderinge aan die baanuitleg is egter gemaak met behulp van voormalige Formule 1-jaer, Daniel Ricciardo. Dit het ‘n groot verskil gemaak en meer verbysteekgeleenthede geskep.
En hierdie jaar was verdere bewys dat die plan gewerk het. Daar is baie verbysteek met vier sones ontwerp om sleurweerstand te verminder, en wat die jaers saamgetrek het.
Die wedren het ‘n ommekeer gemaak toe Alex Albon sesde in die Williams gelê het. Hy het ‘n baie indrukwekkende lopie gehad totdat hy met sy ingang die randsteen geraak en teen die muur vasgegly het.
Te veel gruis op die baan het die rooi vlag te voorskyn gebring.
Dit was ‘n besluit wat verskeie bestuurders bevraagteken het en jaers soos Carlos Sainz in die Ferrari, George Russel in die Mercedes, en Esteban Ocon in die Alpine was ontevrede daaroor, aangesien hulle ‘n paar rondtes vroeër gestop het om harde bande op te sit.
Herbegin uit ‘n stilstaande posisie was die gevolg, en die wedren het voortgeduur totdat Russel se stukkende krageenheid vir nog ‘n rooi vlag gesorg het.
Die Britse jaer was in die derde plek en het gelyk of hy afstuur op ‘n podiumplek.
Nog ‘n stilstaande begin het plaasgevind en die wedren het voortgegaan, met Max Verstappen van Red Bull ‘n neusie voor.
Dit was eers later in die wedren dat Kevin Magnussen se Haas die muur by draai twee getref het. Hy het sy linkeragterband verloor, en nog ‘n rooi vlag is gelig.
Met twee rondtes oor het nog ‘n stilstaande wegspring amper tot pandemonium gelei.
Sainz het die agterkant van Fernando Alonso se Aston Martin gepiets, en die bande van Pierre Gasly se Alpine het in draai een gesluit.
Gasly het teruggekom op die baan en sy spanmaat Ocon afgesper, wat hulle albei in die muur vas gedwing en hul wedren beëindig het, en – jy’t reg geraai – nog ‘n rooi vlag het gewapper.
Gasly het ‘n briljante Grand Prix gejaag in vyfde plek voor Sainz en opgevang met Alonso, maar Alpine se dag was verby.
Om sake te vererger, was een sektor nie voltooi nie, so die volgorde by die oorbegin is sonder die Alpines aangepak. Albei motors was onherstelbaar vir rendoeleindes.
Sainz is gestraf oor ‘n rondte wat glo nie bestaan het nie, wat Verstappen sy eerste oorwinning in Australië gegee het met Lewis Hamilton in die tweede en Alonso in derde plek.
Die wegspring om 7vm was dalk bietjie vroeg vir Suid-Afrikaanse ondersteuners, maar die wedrenne was genoeg om hulle deurgaans wakker te hou, met of sonder daardie driedubbele espresso.
Op die foto hierbo: Daai eerste draai was die oorsaak van nagmerries
Fotobron: F1