Escobar se coke ‘koeie ruk Kolombië se sak

Die verskuiwing van 70 seekoeie wat aan Pablo Escobar behoort het, gaan Kolombië sowat R62 miljoen kos.

Tien van die “kokaïen seekoeie” sal na Mexiko gestuur word en die oorblywende 60 sal in die komende maande na Indië verhuis.

Wat die operasie so duur maak, is om die seekoeie uit hul veilige hawe verwyder te kry. Die huidige plan is om die seekoeie uit te lok en in spesiale kratte te te plaas voordat hulle die wye wêreld ingestuur word, het Insider berig.

Dit is nie ‘n maklike taak nie, en beslis nie goedkoop nie.

Die diere sal professioneel verdoof moet word.

“Alles wat seekoeie aanbetref hou ‘n groot risiko in. Dit is ook kompleks, duur en tydrowend,” sê David Echeverri López van Cornare – die Kolombiaanse regeringsagentskap wat die seekoei-verskuiwing hanteer.

Altesaam 130 seekoeie woon op die plaas wat eens aan Escobar – ‘n dwelmkoning wat in 1993 doodgeskiet is – behoort het.

Sy seekoeie het op die eiendom aangebly nadat hulle onwettig deur Escobar ingevoer is.

Die groep seekoeie het sedertdien teen ‘n strawwe pas aangeteel, met sommige wat voorspel dat daar duisende van hulle in die gebied sal wees in die volgende dekade.

Verlede jaar het Colombia die diere, waarna verwys word as “kokaïen seekoeie” vanweë Escobar se rol in die kokaïenhandel, as ‘n indringerspesie verklaar wat sommige inheemse diere kan verdring.

Dit is hoekom hulle probeer om van die seekoeie ontslae te raak: die land word na al die jare steeds deur Escobar se nalatenskap geteister.

Op die foto hierbo: Seekoeie plas vir hul plesier