Toe ’n inwoner van die Kaapse Skiereiland onlangs ’n werker van die stad Kaapstad vra wat sy moet doen as sy ’n bobbejaan in haar tuin sien, het die persoon voorgestel dat sy ’n sekuriteitsmaatskappy bel.
Dit is baie slegte nuus vir die bobbejaantroppe in die gebied, meen ’n woordvoerder van die Kaapse Skiereiland Natuurbewaring-Inwonersgroep (CPCC).
Die stad Kaapstad het die Stedelike Bobbejaanprogram van die afgelope dekade glo stopgesit sonder enige waarskuwing. Die veldwagters wat na die bobbejane omsien se kontrakte verval einde Junie.
Pleks daar na ’n oplossing gesoek word om ’n konfrontasie tussen mens en dier op ’n vreedsame manier te vermy, word die bobbejane as ’n “probleem” beskryf, asof konflik ’n uitgemaakte saak is, beweer die groep.
Dié uitgangspunt maak deel uit van die konsep-plan van die Kaapse Skiereiland Bobbejaanbestuur-taakspan (JTT), wat verteenwoordigers van SANParke, CapeNature, en die stad Kaapstad insluit.
Die CPCC sê klagtes oor bobbejane kom net van ’n klein minderheid inwoners af, en verteenwoordig nie die breë publiek nie.
Hokaai, sê die JTT.
Volgens ’n woordvoerder, Luthando Dzimba, is dit net ’n voorstel, wat binnekort aan die publiek vrygestel gaan word, en waarop inwoners kan reageer en ander voorstelle doen. Hulle moedig die bewaringsgroep aan om aan die proses deel te neem.
Die bewaringsgroep eis dringender optrede, en wil hê die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, moet ingryp.
Die groep wil hê dat die stad Kaapstad moet begroot om weer veldwagters aan te stel. Die munisipaliteit is genader vir kommentaar hieroor, maar het nog nie geantwoord nie.
In die foto hierbo: Een van Kaapstad se onwelkome inwoners
Fotobron: Twitter