Deur Nkhensani Mthombeni
Haar span het nou wel nie die finaal van die Grannies International Football Tournament (Gift) gehaal nie, maar Pinky “Uncle” Mhlongo was die toernooi se meesbesproke speler.
Die 61-jarige Gogo Pinky van Kwamashu in KwaZulu Natal het sokkerondersteuners beïndruk met haar dribbelvaardighede.
Die bynaam ‘Uncle’ het sy oorsprong van aanhangers wat beweer het sy speel sokker soos ‘n man. In elke wedstryd van haar KwaZulu Natal Gogos-span, het sy die kollig gesteel met haar vaardigheid en spoed.
Haar span het deelgeneem aan die Gift-vierdagbyeenkoms by die Nkowankowa-stadion buite Tzaneen, waar vroue van 50 en ouer verskeie lande verteenwoordig het.
Dit het nie lank gevat vir hierdie Gogo om sosiale media kannale te laat gons nie – veral op TikTok, met video’s wat tydens die toernooi geneem is.
Toeskouers was uit die veld geslaan ten aansien van haar bekwaamheid en het begin om haar vir foto’s en selfies te pla. Sy het vyf doele aangeteken tydens die toernooi.
Sy het aan Scrolla.Africa vertel dat sy op sesjarige ouderdom straatsokker begin speel het saam met seuns.
Op die ouderdom van 13 het sy vir die Durban City se damesspan gespeel; sy was die enigste swart meisie in die span.
Sedertdien het sy verskeie spanne verteenwoordig, insluitende Fast Eagles FC, Kwamashu Sisters FC en die Amazulu Ladies-span.
Gogo Pinky het ook ‘n skeidsregtersertifikaat en tree soms op by wedstryde.
Sy oefen twee keer per dag, van Maandag tot Vrydag, en is ‘n groot bewonderaar van haar buurman en voormalige Bafana Bafana-doelskieter, Siyabonga Nomvete.
“Ek droom daarvan om oorsee te speel,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: Gogo Pinky ‘Uncle’ Mhlongo
Fotobron: Nkhensani Mthombeni