KYK: BRAND WOED IN KERK VOOR PAASFEES

Deur Everson Luhanga

Die Apostoliese Geloofsending in Tembisa het beplan om Woensdag biduur te hou ter voorbereiding van die Paasfees, maar is deur ’n verwoestende tragedie getref wat die lidmate geskok het.

’n Brand het die kerk in puin gelê. Volgens Pastoor Mandlakayise Motseki het net die preekstoel oorgebly. Lidmate het die deur oopgebreek om dit uit te kry.

“Die brand het uitgebreek terwyl daar niemand in die kerk was nie. Mense wat in die omgewing van die kerk woon, het probeer om die brand te blus, maar verniet,” het die pastoor gesê.

Daar word vermoed dat die brand ontstaan het as gevolg van ’n parafienstoof wat sonder toesig in ’n nabygeleë hut aangelos is. Dit het vinnig na ander hutte in die omgewing versprei, en toe na die kerk.

Gelukkig is niemand beseer nie, maar sewe hutte is verwoes.

“Die kerk, wat met sinkplate gebou is, het 40 lidmate gehuisves,” het Pastoor Motseki gesê.

Die kerk het al sy waardevolle items verloor. Dit sluit Bybels, ander kerkboeke en stoele in. Party mense is ook goed soos ID-dokumente en sertifikate kwyt.

Ondanks die terugslag bly die lidmate sterk in hulle geloof en vasbeslote om hulle Paas-gebede te doen.

“Satan se planne om ons gebede stop te sit gaan nie werk nie,” sê Nophethenje Gqumayo, ’n lidmaat van die kerk.

Hulle pleit nou om hulp om die kerk te herbou sodat hulle in Tembisa kan aanbid. “Ons sal by die kerk in Germiston aanbid as dit moet. Maar ons sal verkies om dit in Tembisa te doen, en vra hulp van die gemeenskap,” het Gqumayo gesê.

In die foto hierbo: Die Apostoliese Geloofsending se kerk in Tembisa is deur ’n brand in puin geslê

Fotobron: Everson Luhanga