Deur Zukile Majova
Die veiligheid van Eskom-werkers, aan of van diens af, is weer eens ‘n gesprekspunt nadat ‘n werknemer vroeër vandeesmaand deur sewe gewapende mans ontvoer is.
Eskom en die polisie doen ‘n beroep op die publiek om inligting te verskaf wat mag lei tot die arrestasie van die sewe boewe wat voor die ontvoering verskeie skote op die Eskom-werknemer se motor afgevuur het.
Die kragvoorsiener sê die voorval het op 16 Maart gebeur en het bygevoeg dat sy werknemer later “op ‘n plek in die suide van Johannesburg vrygelaat is en in ‘n hospitaal opgeneem moes word as gevolg van beserings opgedoen toe sy aanvallers hom aangerand het”.
Waarnemende groephoof Calib Cassim het gesê die maatskappy ondersteun die werknemer en sy gesin, wat hierdie traumatiese voorval moes verduur.
“Eskom veroordeel sulke wrede dade en duld onder geen omstandighede enige aanvalle, deur enigiemand, op sy personeellede en hul gesinne nie,” het Cassim gesê.
In Januarie het die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter, die sekuriteitsprobleme by Eskom ontmasker en gesê van sy aanlegbestuurders moes koeëlvaste baadjies werk toe dra, en is deur gewapende wagte beskerm.
Vroue en kinders is afgelaai by die werk en skool deur gewapende wagte, uit vrees vir die kartelle wat meer as R1 miljard per maand van Eskom plunder.
Hy het gesê misdadigheid by Tutuka-kragstasie naby Standerton het planne tot so ‘n mate in die wiele gery dat die energiebeskikbaarheidsfaktor slegs 15% was.
“Dit is toevallig ook die stasie waar die aanleg se hoofbestuurder ‘n koeëlvaste baadjie moet aantrek, en vergesel word deur twee lyfwagte wanneer ookal hy deur die aanleg loop.
“Sy vrou word deur lyfwagte begelei en wanneer sy kinders skool toe gaan, word hulle ook deur lyfwagte beskerm, want sy lewe en die van sy gesin word bedreig.
“Kriminaliteit bly ‘n ernstige komponent in Mpumalanga en moet skerp aangespreek word,” het De Ruyter gesê.
Op die foto hierbo: Eskom-werknemers
Fotobron: @EskomHoldings