Deur Christelle Scheepers
Die regering het die hawelose kleintjies van Kaapstad vir die soveelste keer gefaal.
Little Hands Baby Home in Woodstock, waar Genevieve Bootcov twee jaar lank babas sonder heenkome versorg het, moes hierdie week hulle deure sluit as gevolg van SARS se gesloer met die sogenaamde skenker-terugbetaling-sertifikaat.
Sonder dié sertifikaat, wat weldoeners in staat stel om belasting-afslag te eis, het haar fondse opgedroog.
Little Hands het na kinders omgesien uit families wat nie in hulle basiese behoeftes kon voorsien nie, en kinders wat deur ander omstandighede van ouersorg ontneem is.
Nou word die kinders terug aan hulle ouers besorg, ondanks hulle huislike omstandighede, wat dit onmoontlik maak vir hulle om normale kinderjare te beleef.
Ander kinders word in pleegsorg geplaas. Little Hands was ’n stabiele huis, waar babas en kleuters versorg is totdat daar ’n gesin gevind kon word wat hulle permanent kon inneem,
Vir die twee jaar wat Little Hands oop was, het Genevieve tevergeefs probeer om die regte prosese te volg om haar kinderhuis amptelik te registreer en die nodige befondsing te bekom.
Sy kon net nie tot die welsyn of die belastinggaarder deurdring nie, en moes nou teen haar sin die handdoek ingooi.
Sy het moedeloos vertel hoe sy aan die deure van groter en meer bekende kinderhuise geklop het om te vra vir hulp en eenvoudig weggewys is.
Dié huise se eie bronne was te skaars om te kon deel. Groot maatskappye was nie bereid om te help tensy hulle skenking teen belasting afgetrek kon word nie.
Pick n Pay het ’n enkele koopbewys van R2 000 geskenk… nie naastenby genoeg om aan die kleintjies se behoeftes te voldoen nie.
Wat nou van die kleintjies gaan word, weet nugter. Wat ons wel weet, is dat die regering nie hulle welsyn op die hart dra nie.
In die foto hierbo: Babas sonder ‘n heenkome
Fotobron: Verskaf