Deur Zukile Majova
President Cyril Ramaphosa verloor vinnig magsbeheer en hy weet dit.
Die ontplooiing van die weermag in Suid-Afrika se townships voordat die eerste klip gegooi word, stel sy kwesbaarheid aan die kaak.
Sy ANC het onlangs groot verliese by die stembus gelei en hou aan om weekliks landwye tussenverkiesings te verloor.
Deur 3 474 soldate te ontplooi nog voordat die polisie die aard en stemming van die protes-aksie kan bepaal, boots hy die optrede van die ou apartheidstaat na.
Verlede week het die regering die weermag ingespan terwyl ongewapende hospitaalpersoneel en ander stakende staatsdienswerkers betoog het vir hoër lone.
Die afgetrede Generaal Bantu Holomisa het gesê die gemak waarmee die regering nou die weermag inspan, is kommerwekkend.
“Die soldate gaan hulleself skaam die dag wanneer hulle besef hulle word gebruik om die korrupte ANC regime teen die sukkelende landsburgers te verdedig.”
Holomisa het aan Newzroom Afrika gesê daar is geen aanduiding dat EFF-ondersteuners gewapen sal wees in hulle aandrang op elektrisiteit nie.
Thandi Modise, minister van verdediging en veterane, sê ongeveer 73 000 soldare is op gereedheidsgrondslag geplaas.
Die onluste in Julie verlede jaar, waartydens daar 300 mense dood is, ry Ramaphosa nog bloots. Dis hoekom hy besluit het om nie te wag totdat die protes handuit ruk nie.
Jongmense maak 80% van die 1.2 miljoen EFF-lede uit. Ramaphosa se volgende dilemma: Moet die weermaglede op ongewapende jeugdiges skiet as hulle weerbarstig raak?
Op ’n reeds polities gespanne tydstip gee die EFF-leier, Julius Malema, opdrag aan sy volgelinge om nie deur die staat geïntimideer te word nie.
Ramaphosa word steeds gesien as ’n aandadige aan die dood van 34 mynwerkers tydens ’n loonstaking by Lonmin myn in 2012.
Tagtig ander is beseer toe die polisie op ’n groep betogende werkers losgebrand het.
Ramaphosa se ANC en die regering bevind hulle nou in ongekarteerse gebied. Die jongmense wat ná 1994 gebore is, en as die “born frees” bekend staan, verwerp hulle deur die bank.
Stats SA sê daar is meer as 20 miljoen jongmense van 29 en jonger. Ongeveer agt miljoen vn hulle is geregistreer om in die opkomende verkiesings te stem.
Miljoene ander bly weg van die stembus uit ontevredenheid met die ANC se aanvaarding van korrupsie, asook werkloosheid en swak dienslewering.
Malema hoop hy kan op dié groep staatmaak om die EFF volgende jaar tot amptelike opposisie te verhef.
Tot ’n groot mate is die landwye protes-aksie ’n magsvertoon en ’n enorme publisiteitsfoefie vir die EFF.
Of die foefie slaag of nie, die party het klaar sy punt bewys: dis die enigste party in die land wat die ANC kan aandurf en bloedneus slaan.
In die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa