Onlangse oorwinning vuur Mthembu aan vir volgende seges

Deur Thathe Msimango

Bongumusa Mthembu, driemalige Comrades Marathon-wenner, glo hy’s nog heeltemal instaat om ‘n topprestasie in die ultramarathon-afstand te behaal.

Sy vermoede is Saterdag bevestig toe hy weer sy staal as een van die land se voorste ultramarathon-hardlopers gewys het deur die Om Die Dam 50 km-wedloop gemaklik in ‘n tyd van twee uur 56 minute 33 sekondes te wen. Sy wentyd was byna drie minute vinniger as die tweede-plek mededinger s’n.

Die 39-jarige Arthur Ford Hardloopklub-atleet sê die wedloop het gedien as goeie voorbereiding vir die Two Oceans-marathon wat op 15 April in Kaapstad plaasvind.

“Ek is in my noppies dat ek dit reggekry het om die resies te wen. Ek het beplan om tydens ‘n goeie wedloop my fiksheid te toets voordat ek oor minder as ‘n maand die Two Oceans aandurf,” sê Mthembu, wat die Kaapse wedloop in 2019 gewen het.

“Dis was ‘n moeilike roete en dus presies wat ek nodig gehad het. Ek kan met sekerheid sê ek is in ‘n perfekte toestand om met die beste atlete mee te ding op rendag. Ek wil nie beloftes maak nie, maar op grond van die oefening wat ek gedoen het, is ek positief dat ek goeie resultate sal bereik.”

Met vanjaar se Comrades op die Junie-kalender is daar min tyd vir uitspan na die Two Oceans, maar Mthembu hoop steeds om aan albei wedrenne deel te neem. Die 2018 Comrades-wenner sê die ikoniese wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban lê hom na aan die hart.

“Die Comrades het my help ontwikkel in die atleet wat ek vandag is. So ek gaan hierdie jaar weer probeer vir die kroon. Het ek wat benodig word om weer die titel te wen? Ek dink al daardie vrae sal langs die pad beantwoord word. Ek sal die resultate vir hulself laat spreek.”

Foto hierbo: Bongumusa Mthembu

Fotobron: Pinecrest