Deur Zukile Majova
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het sy volgelinge voorberei om geweld met geweld tegemoet te gaan tydens die beplande nasionale protesaksie op 20 Maart.
Die party is nou Suid-Afrika se grootste politieke organisasie in terme van betalende lede, wat reeds die een-miljoen merk verbygesteek het. Dit het net 10% van die setels in die Parlement.
Malema het beweer 30% tot 40% van die polisiemag in Suid-Afrika is partylede, en dat hulle nasionale polisiekommissaris-generaal Fannie Masemola se planne direk aan hom rapporteer.
Hy sê hy het ‘n verslag ontvang dat Masemola beplan om geweld te gebruik teen die EFF, en dat dit teenstrydig is met die siening van polisie minister Bheki Cele.
“Die minister het Masemola gewaarsku om nie hardhandig teen die betogers op te tree nie,” het hy gesê.
Malema het ‘n beroep op sy ondersteuners gedoen om gereed te wees om hulself te verdedig indien gewelddadige konfrontasies in enige deel van die land sou opvlam.
“Vegters, verdedig julleself. En as enigiemand trigger happy is, wys vir hulle jy kan dit twee-keer beter doen,” het hy gesê.
DA-leier John Steenhuisen het die EFF daarvan beskuldig dat hulle intimiderende briewe aan die bestuur van winkelsentrums en besighede stuur.
Maar Malema hou vol die briewe en verbintenisse met leiers van sakeondernemings is juis om enige plundering en skade aan private eiendom te vermy.
“Ons staan nie plundering voor nie. Maar jy weet as winkels oop is sien mense dit as ‘n geleentheid om betrokke te raak by onwettige aktiwiteite. Ons briewe beveel nie mense om hul winkels te sluit nie,” het hy tydens ‘n media-inligtingsessie by die EFF-hoofkantoor by Winnie Madikizela-Mandela-huis in Johannesburg gesê.
“Ons maak hulle bewus van ‘n betoging op daardie datum en vra hulle om voorbereidings te tref.”
Hy het die nasie verseker dat noodsaaklike dienste soos die polisie, verpleegsters en andere toegelaat sal word om werk toe te gaan.
Die EFF-hoof het gister vergader met die leierskap van Santaco – die sambreelliggaam wat die minibustaxibedryf verteenwoordig.
Malema het gesê die vergadering is ‘n poging om seker te maak almal weet daar sal betogers op die paaie wees en dat taxi’s dit in ag moet neem.
“Daar behoort nie onnodige konfrontasies tussen ons en die taxi’s te wees nie, want ons behoort almal aan dieselfde klas.”
Die party het verskeie belanghebbendes ontmoet, insluitend die voorsitter van die Premier Sokkerliga en staatsbeheerde maatskappye soos Transnet, om brandstofvervoer op die dag te verhoed.
Op die foto hierbo: Julius Malema
Fotobron: Twitter