Deur Zukile Majova
President Cyril Ramaphosa het erken dat ‘n kabinet van 30 ministers en 36 adjunkministers heeltemal te groot is.
Hy het in 2019 belowe om dit in te perk.
Maar verlede week het hy ‘n Minister van Elektrisiteit en ‘n Minister van Beplanning, Monitering en Evaluering bygevoeg.
Laasgenoemde is aan die ANC se tweede adjunksekretaris Maropene Ramakgopa gegee, wie se posisie in Desember tydens die ANC-verkiesingskonferensie geskep is.
Kritici sê nou Ramaphosa gebruik die staatsbeursie om die ANC-betaalstaat se laste te verlig.
Suid-Afrikaanse ministers en adjunkministers verdien sowat R2.6 miljoen en R2 miljoen per jaar saam met byvoordele van meer as R800,000 en 15 persoonlike personeellede. Hulle betaal nie vir water, ligte of munisipale nutsdienste nie.
Opposisieleier John Steenhuisen sê daar is nou meer adjunkministers as wat daar in Jacob Zuma se kabinet was gedurende die sogenaamde “nege vermorste jare”.
Ramaphosa het gespot dat sy kritici ‘n belangrike bespreking in ‘n eenvoudige koptelling omskep het.
“Sommige mense voer aan dat enige afname in die aantal ministers goed is en enige toename sleg is,” het hy geskryf in sy weeklikse Brief van die President.
Ramaphosa het met sy aanstelling die aantal ministeries van 34 tot 28 verminder en belowe om dit nog verder af te skaal.
Die preseident se strategie blyk egter twyfelagtig.
Hy het in 2019 die Ministerie van Menslike Nedersettings gekombineer met die Ministerie van Water en Sanitasie. Maar in 2021 het hy gesê die “land se skaars waterbronne” het hom gedwing om die departemente te skei.
“In 2019 het ons ‘n aantal departemente laat saamsmelt. Ons het byvoorbeeld Handel en Nywerheid gekombineer met Ekonomiese Ontwikkeling, Hoër Onderwys en Opleiding met Wetenskap en Tegnologie, Omgewingsake met Bosbou en Visserye, Landbou met Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, onder andere.”
Hy het gesê die Presidensie en Nasionale Tesourie sal binnekort ‘n plan opstel vir verdere snoei van kabinetslede, wat oor die volgende drie jaar geïmplementeer sal word.
“Die Presidensiële Raad vir Ondernemings in Staatsbesit is besig met ‘n soortgelyke oefening. Dit doen ‘n in-diepte oorsig van alle belangrike staatsondernemings.”
Hierdie heropstelling sal lei tot die sluiting van die Departement van Openbare Ondernemings; Eskom sal na die Departement van Minerale en Energie verskuif en Transnet na die Departement van Vervoer.
Op die foto hierbo: Ramaphosa het nuwe ministeriële poste geskep nadat hy in 2019 belowe het om sy kabinet te krimp
Fotobron: @PresidencyZA