Meester Kohli klink Aussies se doppie

By Razeen Gutta

Virat Kohli was skitterend in sy poging om te vermy dat Indië ‘n nederlaag ly in die vierde en laaste toetswedstryd teen Australië.

Voor die wedstryd nog verby was, het Indië ook sy plek in die IKR Wêreldtoetskampioenskap (WTK) eindstryd bespreek danksy Nieu-Seeland se oorwinning oor Sri Lanka.

Met Indië se reeksvoorsprong reeds 2-1, het die Ahmedabad-kragmeting afgeskop presies soos die besoekers gehoop het dit sou. Australië het ‘n eerstebeurttelling van 480 behaal toe Usman Khawaja (180) en Cameron Green (114) die kollig op openingsdag gesteel het.

Toe Indië uitstap om te kolf, het hulle so aksie-gereed as ooit daaruit gesien – met Kohli heel voor in die koor.

Die voormalige kaptein het vir die eerste keer in byna vier jaar ‘n toetshonderdtal (sy 28ste ooit) bereik, en 186 van 364 gemoker om die Indiërs se telling by 571 te laat draai.

Ravichandran Ashwin het ‘n vroeë paaltjie in die besoekers se tweede beurt ingepalm om te voeg by sy 6/91 in die eerste beurt. Travis Head (90) en Marnus Labuschagne (63) was egter sterk op die voorvoet om te keer dat dinge vir hul span swaai van sleg na plein power.

Hulle het 175/2 behaal toe die vyfde dag tot ‘n einde gekom het, met beide spanne wat ‘n gelykop resultaat aanvaar het.

Danksy Nieu-Seeland se oorwinning met twee paaltjies oor Sri Lanka, weet Australië en Indië nou dat die top-twee plekke op die WTK-ranglys deur geen ander span behaal sal word nie.

Die twee spanne sal weer teen mekaar te staan kom, hierdie keer vir die grootste prys in rooibal-krieket, wanneer hulle van 7-11 Junie die Oval se veld in Londen betree.

Op die foto hierbo: Virat Kohli

Fotobron: @iamvkohli