Iere een te veel vir moedige Skotland

Deur Lucky Maree

Soos die res van die rugbywêreld moes Skotland se spelers verstom gestaan het oor die manier waarop Frankryk Engeland Saterdag platgevee het. ’n Maand gelede het hulle met “net” 11 punte teen die Franse verloor.

As jy later vanjaar geld op Afdeling B van die Wêreldbeker moet waag, sou jy vermoed Ierland se plek in die uitspeelrondes is bespreek, en Skotland sal huis toe mik. 

Gister se telling, 22-7 het niemand verras nie – maar Skotland se waagmoed wys dit sou ’n groot fout wees om hulle af te skryf.

Na 20 minute duik hulle oor vir die eerste drie, en mens wonder of daar ’n groot verrassing wag. 

Duhan van der Merwe se beste duikslag kan nie keer dat Mackenzie Hansen 10 minute later in die hoek oorduik nie.

’n Verbete stryd en ’n Ierse strafskop volg, en toe die spanne draai, is Ierland met ’n enkele punt voor: 8-7.

Eers na 56 minute breek die Skotse damwal en James Lowe druk in die linkerhoek. Johnny Sexton skop oor, en net ’n minuut later is dit Jack Conan wat oorgaan. Sexton sit nog twee pnute by. Die gety het gedraai.

Nou wink ’n bonuspunt vir die Iere, maar die vierde drie – en ’n voltal op die puntelys – ontwyk hulle. 

Toe die eindfluitjie blaas, lyk Skotland se enkele drie en doelskop skraps teen Ierland se drie drieë, twee doelskoppe en ’n strafskop. Maar anders as Engeland s’n is hulle trots ongeskonde.

In die foto hierbo: Ierland op pad na ’n Grand Slam 

Fotobron: @irishpropaganda