Deur Buziwe Nocuze
Wetstoepassers in Kaapstad was Woensdag die teiken van ‘n gewapende roof, toe verdagtes ‘n metropolisiebeampte se vuurwapen gesteel het.
Die voorval het plaasgevind terwyl kopers by ‘n supermark in Philippi toegekyk het, nadat beamptes ‘n motor gestop het om hom te beboet vir ‘n verkeersoortreding.
Die verdagtes het ‘n goue kans gewaar en glo die beamptes beroof van ‘n pistool en die elektroniese handtoestel wat hulle gebruik om boetes uit te reik.
‘n Ooggetuie wat anoniem wil bly het die voorval as skokkend beskryf: “Toe die boewe op die beamptes afstap, het ek gedink hulle gaan hul selfone steel.”
Inwoner Lonwabo Ngunze was verlig dat niemand tydens die voorval dood is nie. Slegs enkele skote is afgevuur.
“Dit is een van die besigste plekke in die buurt; enigiemand kon in die kruisvuur omgekom het. Ek is bly dit was nie die geval nie,” het Ngunze gesê.
Hy meen die verdagtes was daarop uit om klante te beroof toe hulle opmerk dat die beamptes ‘n Avanza voorkeer. Toe hulle besef dis net twee beamptes, het hulle hul kans aangegryp.
Die verdagtes het losgebrand, en een van die beamptes het ‘n enkele skoot in reaksie afgevuur. Die beampte se hand is beseer en hy ontvang tans mediese behandeling.
Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, het die aanval veroordeel. “Die Metropolisiedepartement sal die nodige fisiese en sielkundige ondersteuning verseker deur sy werknemerbystandsprogram,” het hy gesê.
Die gesteelde boetetoestel is in ‘n nabygeleë informele nedersetting opgespoor, maar die aanvallers is steeds op vrye voet.
‘n R5,000 beloning is uitgereik vir inligting wat kan lei tot ‘n arrestasie en herwinning van die gesteelde vuurwapen.
Image source: Buziwe Nocuze
Op die foto hierbo: Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, het die aanval op ‘n beampte veroordeel
Fotobron: Buziwe Nocuze