Deur Nkhensani Mthombeni
Jy’s net so oud soos wat jy jou lyf hou – en teen maandeinde sal 20 spanne doelgerigte gogo’s dié punt bewys tydens die Grannies International Football Tournament (GIFT) in Limpopo.
Bejaarde vroue afkomstig van 14 verskillende lande gaan hul sokkervaardighede ten toon stel, elkeen in die hoop om die eerste GIFT-trofee ooit los te slaan.
Die toernooi is oop vir vroue van 50 jaar en ouer, en is die breinkind van filantroop en radiopersoonlikheid Beka Ntsanwisi.
Sy het reeds in 2007 ‘n sokkerspan vir bejaardes gestig terwyl sy betrokke was by ‘n tuissorgprogram wat na senior burgers omsien, en besef het dat baie seniors afgesonder is, aan chroniese siektes ly, en eensaam is.
“Ek het besluit om hulle aan die beweeg te hou deur hulle aan sokker bekend te stel,” het sy gesê.
Amper oornag het deelnemers aan haar program begin beter voel, omdat hulle meer aktief en lewenslustig was.
Aangesien soveel spelers wou aansluit is ‘n span tot stand gebring. Dit is Vakhegula Vakhegula genoem, wat “oumas, oumas” beteken.
Van die gogo’s het al saam met die span na lande soos Rusland, Frankryk en Amerika gereis, waar hulle voormalige president Barack Obama ontmoet het. Van die spanne wat vandeesmaan gaan deelneem sluit in Frankryk, Mosambiek, die VSA, Togo en Zambië.
“Ons is gereed!” het ‘n opgewonde Dinah Mawila, 65, aan Scrolla.Africa gesê. Sy en haar spanmaats hoop om die toernooi te wen.
Die driedaagse geleentheid is ook daarop gemik om township-lewe en toerisme te bevorder, en ‘n hupstoot te gee aan die plaaslike ekonomie.
Die openingseremonie vind plaas op 26 Maart by Nkowankowa Stadion buite Tzaneen. Die wedstryde skop amptelik af op 27 Maart, en die finale wedstryd en afsluitingseremonie sal op 29 Maart plaasvind.
Op die foto hierbo: Die gogo’s berei voor vir die toernooi
Fotobron: Nkhensani Mthombeni