Phil James, ‘n afgetrede polisiebeampte van die VK, het ‘n hommeltuig gebruik om 1,400 verlore honde aan hul eienaars terug te besorg.
Phil sê sy projek, Drone to Home, het gewild geraak nadat hy sy hommeltuig gebruik het om ‘n hond te vind wat reeds drie dae lank vermis was.
“Ons probeer om elke hond op te spoor wat in die East Midlands vermis word,” het James aan die BBC gesê.
“Ek is versot op die uitdaging en die soektog.”
Phil vertel dat die liefdadigheidsorganisasie gegroei het tot iets wat hy nie in sy wildste drome kon voorsien nie, en hy beplan om die projek uit te brei.
Hy hoop om binnekort ‘n termiese hommeltuig aan te koop, en om sy werk na verskeie lande regoor die wêreld te versprei.
Met behulp van sy hommeltuig het Phil glo reeds 1,400 weghol-honde met hul eienaars herenig.
Hy het die nie-winsgewende organisasie in 2021 gestig, maar het gou hulp nodig gehad en ‘n WhatsApp-pleidooi gestuur vir vrywilligers om by sy pogings aan te sluit.
Deur sy liefdadigheidsorganisasie bied Phil kursusse aan oor hoe om die hommeltuie te gebruik om vermiste honde makliker op te spoor.
Chanelle Storer se hond het spore gemaak en sy het Drone to Home gekontak, wat haar dadelik te hulp gesnel het.
Ses dae later is Storer se hond gevind en tuis besorg.
“Ons kan Phil nie genoeg bedank vir alles wat hy vir ons en vir die gemeenskap doen met hierdie wonderlike liefdadigheidswerk nie. Ons het meer Phil James’s in hierdie wêreld nodig,” het Storer gesê.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: ‘n Hond en ‘n hommeltuig
Fotobron: Tractive