Deur Zukile Majova
President Cyril Ramaphosa het een van sy belangrikste ondersteuners die taak opgelê om die land uit ’n energiekrisis te red wat die ekonomie meer as R1 miljard per dag kos.
Dr Kgosientsho “Sputla” Ramakgopa, wat tot nou toe Hoof van Belegging en Infrastruktuur in die presidensie was, is as ’n “goeie projekbestuurder” aangeprys, maar was nie ’n volwaardige minister nie.
Die persoon met die meeste mag in Suid-Afrika se energiesektor, die Minister van Minerale en Energiesake, Gwede Mantashe, wat verbete veg om steenkool se toekoms te verseker, is die eerste wat Ramakgopa as “projekbestuurder” beskryf het.
Hy het later gesê hy verloor nie slaap oor die aanstelling van ’n minister van elektrisiteit nie.
En met goeie reg.
Mantashe is herverkies as nasionale voorsitter van die ANC, en lei ’n magtige drukgroep ten gunste van voortgesette steenkoolverbruik vir die afsienbare toekoms.
Ramakgopa, wat vroeër as Tshwane se distriksvoorsitter vervang is, het geen politieke mag om Mantashe aan te durf nie. Mantashe is die grootste struikelblok in die omskakeling na ’n groen ekonomie.
As nommer 49 van 87 lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, is die “projekbestuurder” ’n politieke junior in die leeukuil.
Ramaphosa is duidelik bewus van die politieke magstryd vir beheer van Eskom en die energiesektor. Tog hou hy vol dat die nuwe minister die koördinasie van die onderskeie afdelings en entiteite wat by die krisisbeheer betrokke is, sal behartig.
“Hy sal saam met Eskom se leiers werk om die verrigting van bestaande kragstasies op te skuif, en om nuwe kragskeppinskapasiteit te verkry.
“Die aangestelde minister sal die politieke verantwoordelikheid, mag en beheer hê oor elke aspek van die Energie-Aksieplan.”
As Minister van Elektrisiteit, sal daar van Ramokgopa verwag word om die kapitaalverligting van R300 miljard by Eskom te behartig, beurtkrag te verminder, en kraglewering aan die land se myne en nywerhede te verseker.
Tydens gisteraand se aankondiging by die Uniegebou, het Ramaphosa beloof om Ramakgopa hoër magte te gee onder die regulasie van die nasionale ramptoestand.
Ramokgopa se ander swakheid is dat hy geen agtergrond in die steenkoolbedryf, die elektrisiteitsbedryf en hernubare energiebedryf het nie.
Die stryd om beurtkrag te beëindig sluit die verskaffing van ’n betroubare bron van Graad A steenkool aan Eskom se installasies in.
Die hernubare energiesektor verwag dat die nuwe minister die instelling van die Regmatige Eniergie-Oorgang van R155 miljard sal bespoedig.
In die foto hierbo: Kgosientsho Ramokgopa, die pasaangestelde Minister van Elektrisiteit
Fotobron: @Kgosientsho_R