Eskom se belofte hou skaars ’n dag

Deur Zukile Majova

Eskom se belofte van ’n maklike beurtkragweek het net ’n dag gehou voordat die kragleweraar gistermiddag aangekondig het die land skuif op na Fase 5.

Sondag het Eskom laat weet beurtkrag sou wissel tussen Fase 3 en Fase 4, wat beteken die krag sou tussen vier en ses ure per dag af wees. 

Skaars 24 ure later moes ons hoor ons gaan by tye agt ure per dag sonder krag moet klaarkom.

“Vyf kragskep-eenhede het vandag gaan staan, wat beteken Fase 5 sal om 16:00 ingestel word tot 05:00 Dinsdag, waarna Fase 4 tot nadere kennisgewing gaan voortduur,” het Eskom in ’n verklaring gesê.

Na verwagting sal die omskakeling tussen Fase 4 en Fase 5 voortduur terwyl die eenhede by Medupi, Matla, Tutuka en twee eenhede by Hendrina Kragstasie herstel word.

“Die herstelwerk aan die beskadigde toring by Cahora Bassa in Mosambiek duur voort en sal na verwagting teen volgende week klaar wees.”

Beurtkrag kos die land meer as R1 miljard per dag en het ekonomiese groei met 2% geknou en werkskepping vir miljoene jongmense tot stilstand gebring.

Eskom se tegnici het ’n groot deel van Maandag aan herstelwerk bestee, nadat infrastruktuur in die Oos-Kaap Sondagaand deur storms beskadig is.

In die foto hierbo: Eskom se tegnici herstel beskadigde infrastriktuur

Fotobron: @Eskom_SA