Deur Dalphine Tagwireyi
Gewilde Zimbabwiese musikant Winky D se eerste konsert nadat hy weer in die openbaar verksyn het, is in chaos gedompel toe die polisie op gewelddadige wyse die musiek stopgesit en hom van die verhoog af gesleep het.
Winky D, wie se regte naam Wallace Chirumiko is, het in Januarie gaan wegkruip nadat hy ‘n album vrygestel het wat Zimbabwe se ZANU-PF-regering erg gekritiseer het.
Hy het ná twee maande na vore gekom om ‘n vertoning in Chitungwiza in Harare te gee, maar lede van die Zimbabwe-polisie het sy lewendige optrede gestaak.
Terwyl die gevierde maar omstrede musikant probeer het om liedjies te sing wat sosiale en politieke ongeregtigheid en korrupsie aanspreek, het die polisie ingestorm en die partytjie opgebreek.
Woedende aanhangers het bottels op die verhoog gegooi terwyl die beamptes vir Winky D weggesleep het.
Winky D se bestuurder Jonathan Banda het bevestig dat die polisie sy optrede gestaak het en gesê hy konsulteer met Vigilante Family – Winky D se platemaatskappy – om ‘n formele verklaring uit te reik.
Temba Mliswa, parlementslid vir Norton in Harare, het die polisie se optrede veroordeel.
“Om ‘n kunstenaar se vertoning stop te sit is nie net ontstellend nie, maar skandelik. Probeer die owerhede nou sy loopbaan ontspoor deur sulke lafhartigheid? ‘n Kunstenaar wat ons op die hande moet dra, word soos skuim behandel,” het hy gesê.
Winky D se musiek beskryf die alledaagse stryd van Zimbabwiese jeugdiges en hy sing oor sosiale onreg, korrupsie en plundering. Radiostasies is ook verbied om sy nuutste album, Eureka, te speel.
Sekretaris vir die Minister van Inligting, Nick Mangwana, het bygevoeg dat daar ‘n ernstige poging gemaak word om die smous en misbruik van dwelms te bekamp.
“Nadat hulle die hoë voorkoms van dwelmgebruik onder feesgangers opgemerk het, het owerhede ook begin om by hierdie geleenthede in te gryp. Dit is hoogs prysenswaardig,” het hy getwiet.
Paul Nyathi, assistent-kommissaris van die Zimbabwe-polisie, het gesê hy is nie in Harare nie en is onbewus van die gebeure wat gelei het tot die arrestasie van die omstrede dancehall-kunstenaar.
Op die foto hierbo: Winky D
Fotobron: Facebook