Deur Lungi Langa
Volgens die gesinne van Bonginkosi Mazibuko en Mxolisi Msimango was die twee mans onafskeidbaar.
Hulle was sulke goeie vriende dat, toe Msimango Vrydag per ongeluk sy beste vriend doodgeskiet het, hy nie twee keer gedink het om die geweer op homself te rig nie.
Die twee was bekend daarvoor dat hulle mekaar poetse gebak het, en altyd met ‘n glimlag en vaster vriendskap anderkant uitgekom het.
Toe Mazibuko, 31, by ‘n Total-vulstasie in Nquthu in KwaZulu-Natal aankom, was sy vriend daar om hom te ontmoet – en gereed om sy jongste slenter op te dis.
Msimango, 41, het geglimlag en vir Mazibuko gesê hy het geld nodig.
“Weet jy nie ek het ‘n wapen nie?” het hy geglimlag en sy pistool op Mazibuko gerig.
Maar toe die twee uitbars van die lag, het Msimango se vinger op die sneller gegly, en Mazibuko het eensklaps gesterf.
Mphostoli Mazibuko, Bonginkosi se pa, het gesê hulle is van die voorval ingelig oomblikke nadat dit gebeur het, en het hul na die toneel gehaas.
“Toe ons daar aankom, was hulle albei dood en het bo-op mekaar gelê, soos jy sou verwag om mense te sien wat minnaars was,” het die pa in trane gesê.
Mxolisi het leweloos bo-op sy vriend gelê. Buite homself oor die gevolge van sy grap, het hy daar en dan besluit om sy eie lewe te beëindig.
“Dit lyk of ‘n koeël in die geweer oorgebly het en sy vriend het dit nie opgemerk nie. Toe Mxolisi dit sien, het hy die geweer gelaai en sy eie lewe geneem.”
Mphostoli het gesê ‘n ooggetuie wat die tragedie sien afspeel het, het aan die mans se naasbestaandes vertel wat gebeur het.
Hy het gesê die twee mans was al vir meer as 10 jaar goeie vriende. Hulle het ontmoet terwyl hulle albei in die taxibedryf gewerk het, waarvan Mxolisi steeds deel was; hy het die taxi besit wat hy bestuur het op die dag van die voorval.
Msimango se oom, Themba Msimango, het gesê albei families het ‘n yslike verlies gely. Hy sê almal het geweet hoe goed bevriend die twee was en niemand sou kon raai dat dit so sou eindig nie.
Hy het gesê toe sy broerskind besef wat gebeur het, het hy gehuil en gesê: “Ek het my vriend doodgemaak,” voordat hy homself geskiet en bo-op sy vriend neergestort het.
Maar die families was in kontak om maniere te probeer vind om saam te genees, aangesien albei diep deur die ongeluk geraak is.
KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, konstabel Thenjiswa Ngcobo, het bevestig dat die Nquthu-polisie ‘n klagte van moord ondersoek en dat ‘n doodsondersoek geopen is. Sy het gesê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Foto 1: Mxolisi Msimango wat homself om die lewe gebring het nadat hy sy vriend Bonginkosi Mazibuko per ongeluk doodgeskiet het
Foto 2: Bonginkosi Mazibuko wat deur sy beste vriend, Mxolisi Msimango, doodgeskiet is