In ’n flou poging om snaaks te wees by ’n Black History Month saamtrek, Het die Amerikaanse President, Joe Biden, gesê, “Ek is dalk ’n wit outjie, maar ek is nie onnosel nie. Ek weet waar die ware mag lê.” ’n Kil stilte het neergedaal, gevolg deur die getjirp van ’n swerm krieke.
Biden het die swart gemeenskap Maandag geloof vir hulle bydrae tot die VSA, terwyl talle swart leiers teenwoordig was, het The Times berig.
Hy het voortgestrompel en gesê, “Ek weet al lankal van die Divine Nine,” wat na die nege historiese swart studenteverenigings verwys.
Hy het al dieper in die moeras weggesak met ’n grappie dat Hakeem Jeffries, the Demokratiese minderheidsleier, nie meer met hom praat nie.
Biden het gesê Jeffries, wat swart is, is “hier ondanks die feit dat ek deel van sy verkiesingsveldtog was”.
Daarna het Biden vir Steven Horsford, voorsitter van die Swart Koukus in die Kongres, bygesleep.
“Ek was deel van sy veldtog ook. Hy praat dus ook nie met my nie.” Toe sê hy: “Ek grap net.”
Dis nie die eerste rasglipse wat hy maak nie.
In 2007 het hy na Barack Obama verwys as “die eerste soort Afro-Amerikaner is wat wel ter tale, slim en skoon is”.
Hy leer nie uit sy foute nie. Selfs tydens sy 2020 veldtog het hy aan aktiviste gesê: “Arm kinders is net so slim en talentvol soos wit kinders.”
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: Joe Biden
Fotobron: Twitter