Nigeriese cops met gesteelde stembusse betrap

Premium Times

Polisie in Rivers State in die suide van Nigerië sê hulle het drie van hulle makkers vasgetrek vir beweerde verkiesingsbedrog.

Die polisie se segspersoon in die gebied, Superintendent Grace Iringe-Koko, het gister in ’n verklaring gesê die inhegtenisneming spruit uit ’n video van die beweerde oortreding.

In ’n segment wat op Twitter rondgestuur is, ry ’n polisiewa van ’n stemlokaal weg met stembriewe wat die grond besaai.

“Die polisie het ons stemboks gesteel,” sê ’n mansstem in die agtergrond.

Benewens die arrestasie het die polisie ook op die voertuig beslag gelê.

Iringe-Koko het gesê die polisie het ’n verpligting om die oppergesag van die gereg te verdedig, en dat die betrokke polisielede gestraf sal word indien hulle skuldig is.

“Die ondersoek duur voort en die uitslag sal openbaar gemaak word,” het hy gesê, en inwoners van Rivers State gevra om kalm en vreedsaam te bly.

Daar was berigte dat polisielede en ander veiligheidsbeamptes kop in een mus met politici  in Rivers State was om die verkiesing in hulle guns te beklink. Premium Times het ’n video geplaas waarin ’n polisielid stembriewe met duimafdrukke opskeur.