Mantashe dink hy doen eersteklaswerk

Deur Zukile Majova

Gwede Mantashe, die Minister van Minerale Bronne en Energiesake, glo hy doen eersteklaswerk, al gaan Suid-Afrika deur sy grootste energiekrisis in dekades.

Mantashe is daarvan beskuldig dat hy by Eskom inmeng en die implementering van onafhanklike kragvoorsiening en die Regmatige Energie-oorgang vertraag.

Die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen, het Mantashe in Januarie ontmoet in ’n poging om sy lugtigheid vir ’n vinnige toepassing van die R156-miljard Regmatige Energie-oorgang, te verstaan.

Die mikput daarvan is om die land se afhanklikheid van steenkoolaangedrewe kragstasies te verminder met die gebruik van hernubare energiebronne.

Mantashe sê hy dra by tot pogings om die beurtkragprobleem op te los, maar Eskom is nie sy baba nie.

“Eskom is histories nog altyd in Openbare Werke. Ek is al drie jaar minister van energiesake. Ek het Eskom nooit bestuur nie. Nou is dit skielik my baba.”

President Cyril Ramaphosa het bevestig dat Eskom van Openbare Werke na Mantashe’s se departement oorskuif.

Mantashe meen hy moet op sy vertoning by minerale bronne en energiesake geoordeel word. En dat hy uitstekend vaar.

“Daar is beurtkrag en almal dra by om oplossings te vind. As die president sê ons moet ’n projekbestuur-aanslag gebruik en daarop fokus, met ’n minister aan die hoof, gaan ek nie daaroor slaap verloor nie.

“As ek afgedank moet word [vir beurtkarag en probleme by Eskom] verstaan ek dit nie. Mynwese vaar goed, energie doen goed,” het hy aan Newzroom Afrika gesê.

Dit is dieselfde Mantashe wat die einde van Eskom se Hoof Uitvoerende Beampte, Andre de Ruyter, se ampsbekleding bespoedig het met aantygings dat Eskom se bestuur “die omverwerping van die staat” aanpor.

“Enige ander regering kan met dié beurtkragvlak sneuwel. Eskom, wat dit nie oplos nie, kan die omverwerping van die staat bewerkstellig. Beurtkrag is ’n probleem wat dringend aangespreek moet word.”

Mantashe se ander onverstaanbare kenmerk is sy teenstand teen hernubare energiebronne.

So onlangs soos verlede week het hy gesê hernubare energie kan die stelsel net stabiliseer, maar nie beurtkrag beëindig nie.

In ’n verslag aan die parlement oor die regering se program vir die verkryging van onafhanklike kragvoorsiening, het Mantashe gesê die land se 89 onafhanklike kragvoorsieners lewer 6 000MW – veel minder as wat beurtkrag tot ’n einde sal bring of betroubare energie aan myne en nywerhede kan lewer.

In die foto hierbo: Steenkooldreunsanger Gwede Mantashe word gesien as ’n meulsteen vir hernubare energie

Fotobron: @GwedeMantashe1