Begroting bevoordeel rykes

Deur Zukile Majova

In ’n wêreld waarin enigiets beter is as niks, sou die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, applous ontvang het vir die toegif van 25% wat hy vir sonpaneel-aankope toegestaan het.

Maar as aansporing vir gesinne om in sonpanele te belê, en so die druk op die land se mankolieke kragstelsel te verlig, gaan die toegif nie ver genoeg nie.

Die minister kry lof vir die besluit om Eskom se skuldlas met R254 miljard te verlig.

Die kragverskaffer het dringend bystand nodig om sy steenkool-aangedrewe kragstasies te onderhou en opgradeer en beurtkrag tot ’n einde te bring. Beurtkrag kos die land nou R1-miljard per dag.

In sy begrotingsrede vir 2023/4 by die Kaapstadse stadsaal het Godongwana belastingverligting van R9 miljard aangekondig vir huishoudings en besighede om in hernubare energie te belê.

“Soos deur die president aangekondig, sal ons ’n nuwe belastingaansporing aan mense bied om son-dakpanele aan te bring om die las op die stelsel te verlig en beurtkrag te verminder.

“Mense wat van 1 Maart af son-dakpanele installeer, sal ’n toegif van 25% op die aankoop van panele ontvang, tot ’n maksimum van R15 000.

“Dit kan gebruik word om hulle belasting-aanspreeklikheid vir die 2023/24 te verminder,” het die minister gesê.

Wanneer mens na die installeringkoste van ’n sonpaneel-stelsel kyk, is dit duidelik dat die minister veel verder moes gegaan het, volgens kenners.

Energie-ontleder Chris Yelland het gesê: “Die nuwe belastingtoegifte vir sonpanele is teleurstellend en onvoldoende.

“Geen vermindering van waarde-toegevoegde belasting of invoerbelasting op sonpanele, omskakelaars of batterye nie. Nie kragdadig genoeg nie.”

Godongwana se begroting het ook kritiek ontvang omdat die toegif aan werkloses van R350 nie opgeskuif is nie.

Dit is onveranderd sedert die instelling daarvan tydens die Covid-19 pandemie in 2020, en is verder deur inflasie van nut gestroop.

Die toegif aan bejaardes en gestremdes sal van April af met R90 verhoog word en met ’n verdere R10 in Oktober, om dit op R2 090 te staan te bring.

Toegifte aan kinders sal met R30 tot R510 opgeskuif word, en dié vir pleegsorg met R60 tot R1 130.

Meer as 29 miljoen Suid-Afrikaners leef van sosiale toegifte, wat 8 miljoen ontvangers van welsynstoegifte en 11 miljoen ontvangers van die R350 Covid-19 sosiale nood-toegifte insluit.

In die foto hierbo: Minister van Finansies Enoch Godongwana

Fotobron: Twitter