Deur Thathe Msimango
Die Suid-Afrikaanse gemengde aflosspan het pynlik naby daaraan gekom om ‘n medalje in die Wêreldatletieklandloopkampioenskappe in Bathurst, Australië, te verower.
Die span wat bestaan het uit Tshepo Tshite, Caster Semenya, Prudence Sekgodiso en Ryan Mphahlele het sterk vertoon in ‘n 8km-aflositem en ‘n tyd van 23:50 behaal om Saterdag in die vierde plek te eindig.
Die Australiese span wat ‘n bronsmedalje verwerf het, het 23:26 geklok – 24 sekondes vinniger as Semenya en Kie.
Mphahlele, die nasionale 1,500m-kampioen, het gesê hy is trots op die span se vertoning.
“Ek dink ons het alles op die dag gegee, maar die medalje was nie vir ons beskore nie. Ek is glad nie teleurgesteld nie, aangesien ons die land trots gemaak het. Dit is ‘n groot resultaat vir ons,” het hy gesê.
In die mans se 10km senior byeenkoms was die meervoudige nasionale kampioen Precious Mashele die eerste Suid-Afrikaner wat klaargemaak het. Hy is in die 16de posisie geplaas met ‘n tyd van 30:44. Tydens die 2019-byeenkoms in Denemarke het Mashele ook ‘n 16de plek behaal. Algeheel was die senior mans span vyfde op die punteleer. Die senior vrouespan het op ‘n sewende plek behaal.
In die juniorskategorie het die mans byna ‘n spanmedalje verower met hul vierde plek op die punteleer; die junior vrouespan het in die agtste posisie geëindig.
Foto hierbo: Ryan Mphahlele
Fotobron: Verskaf