Deur Razeen Gutta
Die Yeni Malatyaspor-klub het aangekondig dat hul doelwagter, Ahmet Eyup Turkaslan, omgekom het in die aardbewing wat Turkye Maandag geruk het.
Malatyaspor het Twitter gebruik om die nuus van sy dood te deel: “Ons doelwagter, Ahmet Eyup Turkaslan, het sy lewe verloor tydens ‘n ineenstorting wat deur die aardbewing veroorsaak is. Rus in vrede.
“Ons sal jou nie vergeet nie, lieflike mens.”
Die 28-jarige het hierdie seisoen twee keer verskyn vir die klub, wat in die tweede afdeling kompeteer. Hy was een van duisende slagoffers van die natuurramp wat Turkye en Sirië getref het.
Die doelwagter het sy hele loopbaan in sy tuisland deurgebring; hy het Bugsasspor, Osmanlispor en Umraniyespo verteenwoordig voordat hy na Yeni Malatyaspor verskuif het.
Turkaslan word oorleef deur sy vrou Kubra, wat ontsnap het van die puin van die aardbewing – wat die Richterskaal tot op 7.8 gedruk het.
Byna 12,000 lewens is reeds verloor as gevolg van die tragedie, en dié getal sal toeneem namate meer liggame gevind word.
Alle professionele sokker in Turkye is te midde van die krisis onbepaald opgeskort.
Op die foto hierbo: Ahmet Turkaslan
Fotobron: @FIFPRO