Deur Razeen Gutta
Die Hoëveld is ’n gepaste toneel vir ’n sprankelende einde aan die eerste SA20 kriekettoernooi, met die spanne van Pretoria en Johannesburg bo aan op die puntelys.
Die Wanderers bied vandag die eerste halfeind tussen Pretoria Capitals en Paarl Royals aan, en Joburg Super Kings speel Donderdag in die ander een teen Sunrisers Eastern Cape in Centurion.
Die voormalige Proteas-kaptein Graeme Smith, toernooibaas, sê die SA20 het “energie teruggegee” aan die land se krieket. En die toeskouertalle bevestig dit.
Die ses spanne het mekaar twee kere elk aangedurf. Die eerste klompie wedstryde is meestal aan die kus en in die Paarl gespeel. Die afgelope week was Gauteng die brandpunt.
The Wanderers is geel geverf met twee seges na mekaar, wat die Joburg Super Kings se plek in die top vier beklink het.
Die kaptein, Faf du Plessis, was verwoestend met die kolf teen Sunrisers Eastern Cape, en Maandag was dit Leus de Plooy se beurt teen MI Cape Town.
Pretoria het MI Cape Town Saterdag in ’n riller met een paaltjie geklop.
Gister het die Paarl Royals se ondersteuners hulle naels flenters gekou toe hulle in ‘n verloorwedstryd net-net genoeg lopies gemaak het om Durban Super Giants uit te skakel op lopietempo.
Die Giants het die Capitals Sondag verpletter, danksy ’n briljante honderdtal deur Heinrich Klaassen, maar dit was net nie genoeg nie.
Die eindstryd vind Saterdag op die Wanderers plaas. Daar is reserwedae vir al die uitspeelwedstryde opsygesit.
In die foto hierbo: Supersport Park, Centurion
Fotobron: @pretoriacapssa