By Zukile Majova
Tensy die Minister van Energiesake, Gwede Mantashe, of een van sy meelopers jou al gebel het, kan jy jou aansoek om André de Ruyter se vakate pos as Eskom se baas maar laat vaar.
Die maatskappy, met ’n waarde van R247 miljard en met meer as 40 000 werknemers, het uiteindelik die pos van Hoof Uitvoerende Beampte geadverteer. De Ruyter het in Desember 2022 bedank.
Mantashe het hom daarvan beskuldig dat hy deel was van ’n komplot om die ANC-regering te ondermyn deur te versuim om beurtkrag onder beheer te bring.
Hy het ministers en lede van Eskom se topstruktuur uit die pad gevee om die ANC se sleutelspeler in die energiesektor te word.
Sy jongste slagoffer is Pravin Gordhan, Minister van Openbare Ondernemings, wat in die verlede een van President Cyril Ramaphosa se onaantasbare bondgenote was. Ná ’n bloedige magstryd met Mantashe se ondersteuners het Gordhan hom buite die ANC se magtige nasionale uitvoerende komitee bevind.
Eskom se toekomstige baas sal ook witvoetjie by Eskom se nuwe direksie moet soek. Dié word daarvan beskuldig dat hulle Eskom se topbestuur verdeel.
Die afgelope week het ’n ontleder van energiesake, Chris Yelland, gesê hy bespeur onmin tussen Eskom se direksie en uitvoerende beamptes.
“Ek verneem Eskom se Hoof Uitvoerende Beampte, Bedryfshoof en Hoof van Finansies is vervreemd van die direksie en die ministers van openbare bedrywighede en minerale en energiesake,” sê hy.
Die eersgenoemde drietal is nie na die mees onlangse media-inligtingsessie uitgenooi nie.
Yelland noem dit ’n “kommerwekkende verwikkeling, wat tot die verspreiding van verkeerde, misleidende en onvolledige inligting sal lei”.
Dit het Eskom amper twee maande gekos om De Ruyter se pos te adverteer. Die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte sal die tiende sedert 2014 wees. Dit sluit waarnenemende hoofde in.
Die pos vereis ’n persoon wat “ervaring het in die verkryging van kapitaal, en die bestuur van groot kapitaalprojekte”. Die belangrikste vereiste is “ervaring in die bestuur van ’n dinamiese en sterk belanghebbende omgewing.”
Die nuwe baas sal ’n maatskappy oorneem te midde van ’n ontbondelingsproses. Daar sal van die suksesvolle kandidaat verwag word om die omstrede “Regmatige Oorgang” van steenkoolgedrewe kragstasie na hernubare energiebronne, ten bedrae van R150 miljard, te bestuur.
In die foto hierbo: Eskom se kragstasies
Fotobron: Twitter