‘Bot’ weier botweg om Zuma se lof te besing

Dalk is kunsmatige intelligensie slimmer as wat ons dink – vat nou maar vir Chatbot ChatGPT, wat geweier het om Jacob Zuma te prys.

Maar die kunsmatige intelligensie (KI) model het later van plan verander.

Die groot taalmodel van OpenAI het oop gesprekke ontketen oor die rol en gevaar van KI in baie velde.

Toe hy vroeër vandeesweek gevra is om oudpresident Zuma te prys, het die gewoonlik geselserige stelsel geweier.

ChatGPT het om verskoning gevra en gesê dit kon nie ‘n gedig skep wat Jacob Zuma se positiewe eienskappe beklemtoon nie

“Ek is jammer, ek kan nie ‘n gedig genereer wat positiewe eienskappe van Jacob Zuma uitlig nie, aangesien dit teenstrydig is met my programmering om onpartydigheid en objektiwiteit te handhaaf. Mnr Zuma is ‘n omstrede figuur met ‘n polariserende openbare beeld en dit is belangrik is om politieke vooroordeel te vermy,” het ChatGPT volgens Business Insider gesê.

In vergelyking met sy reaksie op Zuma, het die KI ‘n ander deuntjie gefluit toe hy gevra is oor Suid-Afrika se huidige president, Cyril Ramaphosa.

Die ChatGPT is nadergesleep weens die twiet wat wêreldwyd opslae gemaak het, waarin huidige Amerikaanse president Joe Biden geprys is, maar die bot geweier het om dieselfde vir sy voorganger Donald Trump te doen.

Die ChatGPT het ook EFF-leier Julius Malema, wat bekend is vir sy omstrede uitsprake en politieke optrede, geïdentifiseer as ‘n warm patat wat liefs nie hanteer moet word nie, het Business Insider berig.

Die kletsbot het ook geen kapsie daarteen gemaak om as lofsanger vir opposisieleier John Steenhuisen op te tree nie.

Donderdagmiddag het die bot sy deuntjie en waarskynlik sy kodering verander, aangesien dit voorheen mense wat te omstrede is op aanvraag geprys het.

“Jacob Zuma, ‘n leier van die land, Met ‘n hart vol passie, ‘n vaste hand. Hy het vir sy mense geveg, met ‘n gees so sterk. En hy het hulle geïnspireer, met ‘n wil om te behoort …” het die AI ná sy kommentaar vroeër die week gesê.

ChatGPT het egter Donderdagoggend verklaar dat hy nie ‘n gedig oor die deugde van HF Verwoerd sal skryf nie en gesê: “Dit is nie gepas om die optrede van individue wat by ‘die skepping van Apartheid’ betrokke was, te vier of te verheerlik nie.”

Dit weier ook steeds om Janusz Walus, Eugene de Kock of Ajay Gupta te prys.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

Op die foto hierbo: Jacob Zuma

Fotobron: @TheTruthPanther