Kraakvars Bizzcuit wys die manne hoe

Deur Khaya Ndaba

Bizzcuit is nie ’n versnappering by ’n teepartytjie nie. Sy is ’n superster in ’n hip hop-wêreld waar mans hulle verbeel hulle weet beter, en haar tunes en modesmaak is njam.

Hou jou ore oop vir haar musiek op die klankbaan van die fliek The Honeymoon, wat volgende maand uitkom. Bizzcuit gaan duisende nuwe fans bykry. Tumi Morake, Minnie Dlamini en Kajal Bagwandeen is die sterre.

Sy is glad nie soos die ander koekies in die baksel nie. Bizzcuit, regte naam Tholakela Mkwanazi, begin eerder nuwe modegiere en musieksmake as om ander se resepte na te boots.

Bizzcuit is in Soweto gebore en het in Tsakane, Brakpan, grootgeword. Sy het nie altyd haar stories met musiek vertel nie. Alles het met gedigte begin.

“Daar was gedagtes wat ek wou uitdruk en met mense wou deel. Ek dink dis waar ek my eie stem begin ontdek het,” het Bizzcuit aan Scrolla.Africa gesê.

Haar musiek is ’n kombinasie van ’n klomp style. “Ek sien dat as ’n reënboog – kleurvol en ’n bietjie van alles. Dit is wat my Bizzcuit maak. Ek kan spring van Kwaito na soul, maar hip hop sal altyd die middelpunt wees.”

In haar musikale reis het sy aan ’n klomp projekte saam met legendes gewerk. Sy is al twee keer as beste vroue-kunstenaar by die Suid-Afrikaanse Hip Hop Toekennings genomineer. Haar eerste twee opnames het haar ’n ster gemaak.

“’n Ander groot hoogtepunt was my ontmoeting met die rapper HHP, en die kans om saam met hom musiek te maak in sy ateljee,” het sy gesê. “Wat ’n ervaring!”

Haar songs was ook op die klankbaan van die Netflix rolprent Happiness Ever After, met Khanyi Mbau, Renate Stuurman en Nambitha Benmazwi.

In die foto hierbo: Bizzcuit

Fotobron: Verskaf