’n Verloofde paartjie in Iran is elkeen tien jaar tronkstraf opgelê omdat hulle gedans het..
Astiyazh Haghighi, 21, en haar verloofde, Amir Mohammad Ahmadi, 22, se klagstaat lui “bevordering van onreinheid en onsedelikheid, samekoms en sameswering teen nasionale sekuriteit, en propaganda teen die regering,” volgens die Human Rights Activists News Agency.
Dit kom nadat hulle ’n video van 16 sekondes op Instagram geplaas het waarin hulle voor die Azadi-plein in Teheran dans. Protesoptrede teen die regering het in die verlede daar plaasgevind. Die paartjie het elkeen meer as ’n miljoen volgelinge op Instagram.
Die vonnisse was veel swaarder as dié wat verlede maand aan ’n man opgelê is wat sy tienervrou onthoof het, volgens ABC News. Dans en omhelsing in die openbaar is onwettig in Iran.
Die paartjie is op 1 November verlede jaar met geweld by hulle huis in Teheran in hegtenis geneem. Hulle is toegang tot regshulp geweier en hulle borgaansoeke is verwerp.
Die dans wat hulle uitgevoer het, hou oënskynlik nie verband met die masa-protesaksie teen Iran se drakoniese regering nie, berig die BBC.
Maar die video is geloof as ’n simbool van vryheid ter ondersteuning van die protesaksie.
Die Azadi-toring en die plein word deur die regering beskryf as ’n “uiters sensitiewe” gebied, volgens AFP.
Sjah Mohammad Reza Pahlavi het die plein laat bou kort voordat sy regering met die rewolusie in 1979 omvergewerp is. Die argitek was lid van die Bahá’í geloof, wat deur Iran se Islamitiese Republiek onderdruk word.
Die betogings in Iran het gevolg op die dood in aanhouding van ’n 22-jarige vrou, Mahsa Amini.
Die Verenigde Nasies het berig dat meer as 14 000 mense tot dusver in hegtenis geneem is. Dit sluit kinders, sportlui en beroemdes in.
Saamgestel deur Mashudu Mabila
In die foto hierbo: Die verdoemde paartjie
Fotobron: @flykidflo