Deur Razeen Gutta
Toeskouers was die helde van die dag nadat ‘n ernstige besering Saterdag in ‘n Eswatini Premierliga-kragmeting opgedoen is.
Manzini Wanderers het teen Denver Sundowns te staan gekom. Toe ‘n speler 20 minute na die begin van spel inmekaarsak, het die skeidsregter ‘n ambulans ontbied.
Tot groot verbasing van almal in die skare by die Prince of Wales-stadion in Mbabane, kon die ambulans egter nie daarin slaag om weg te trek nie.
Organiseerders is vinnig van enige verleentheid gespaar toe ondersteuners die veld op gestorm en die saak sommer self aangepak het.
Ondersteuners het die voertuig aan die brand gestoot en die speler is na ‘n mediese fasiliteit geneem – tot groot verligting van almal wat toegekyk het.
Manzini Wanderers het die wedstryd met 1-0 gewen.
Op die foto hierbo: Aanhangers stoot die ambulans aan die brand tydens ‘n Eswatini Premierliga-wedstryd
Fotobron: @mickyjnr