Djokovic weer tops na 22ste Grand Slam-sege

Deur Razeen Gutta

Novak Djokovic het Stefanos Tsitsipas in die Australiese Ope mansenkelspel-eindstryd geklop om sodoende Rafael Nadal se rekord van alle tye – 22 Grand Slam-titels – te ewenaar.

Die eerste stel het vlot verloop vir die 35-jarige Serwiër toe hy Tsitsipas met 6-3 ore aangesit het. Met een stel teen nul het dit egter nie gelyk soos ‘n uitgemaakte saak tydens die tweede stel se verloop nie.

Die wêreld nommer drie van Griekeland het dit gas gegee in stel drie, wat beteken het dat Djoko moes uithaal en wys om sy 10de titel in Melbourne te beklink.

Die laaste twee stelle het uiteindelik in Djokovic se guns geëindig: hy het hulle albei met 7-6 gewen om die wa deur die drif te trek. Volgens sy teenstander het dit sy plek as die topspeler van alle tye verseker.

“Hy is die beste ou wat ooit ‘n tennisraket vasgehou het,” het Tsitsipas aan verslaggewers gesê in sy lofsang aan die kampioen na die wedstryd.

“Ek weet nie wat om te sê nie, maar dis vanselfsprekend. Dit is alles in die getalle. Jy maak my ‘n beter speler wanneer ek die baan betree. Ek het die voorreg gehad om teen hewige kompetisie te staan te kom, maar dit is hierdie wedstryde waarvoor ek my hele lewe lank al werk.”

Djokovic het hierdie sege sy grootste oorwinning ooit genoem, en genoem dat hy gesukkel het om beserings te oorkom, maar ook ‘n punt daaran gemaak om die 24-jarige Tsitsipas te prys.

“Ek moet sê, ek is geraak deur Stefano se woorde. Dankie dat jy so vriendelik en respekvol is. Veels geluk met ‘n wonderlike toernooi. Hierdie is beslis nie jou laaste Grand Slam nie. Jy het baie tyd, baie meer as ek. Ek vind jou steeds baie interessant. Ons kom albei van klein lande wat nie veel van ‘n tennistradisie het nie,” het hy gesê.

“Dit was een van my moeilikste toernooie, met omstandighede in ag genome. Ek het nie verlede jaar gespeel nie en moes vanjaar teruggekom. Ek wil almal bedank wat my so gemaklik laat voel het. Daar is ‘n rede waarom ek juis hier my beste tennis speel.

“Slegs die span en my familie weet wat ons moes deurmaak. Ek sou sê dit is my grootste oorwinning ooit.”

Op die foto hierbo: Novak Djokovic

Fotobron: @tipsarevicjanko