Deur Michael Madyira
Burnley, ’n klub in die Engelse Sokkerkampioenskap, het met ’n skreeusnaakse video, wat op die animasiefliek Shrek sinspeel, bekend gemaak dat hulle die Bafana Bafana-superster Lyle Foster bo beroemder helde gekies het.
In die video, wat ’n internet-sensasie geword het, vra Lord Farquaad, ’n karakter uit Shrek, aan ’n towerspieël wie hy vandeesmaand as nuweling vir die klub moet kies.
Lord Farquaad tob oor drie kandidate: Lionel Messi van Argentinië, Cristiano Ronaldo van Portugal, en Foster van Suid-Afrika.
Die spieël beveel die volgende aan: “’n Uitstekende speler uit Suid-Afrika wat in België se Pro-Liga speel en doele vir sy land se junior én senior spanne aangeteken het. Kies vir… Lyle Foster.”
Lord Farquaad dink ’n oomblik na, en kondig aan, “Foster! Hy is perfekt!”
Die 22-jarige-old Suid-Afrikaanse voorspeler kan hom volgende jaar in die Engelse Premierliga bevind. Burnley – ook bekend as die Clarets – loop met ses punte voor in die Kampioenskapliga, en is die groot gunsteling om na die Premierliga op te skuif.
Foster kon nie by AS Monaco, sy eerste Europese klub, die mas opkom nie. Sy sokker-omswerwinge het uiteindelik by die Belgiese klub KVC Westerloo gedraai, vanwaar Burnley hom opgeraap het.
Die jongste skuif is Woensdag beklink, met ’n kontrak vir die volgende vier-en-’n-half jaar. Hy is een van drie nuwelinge by die klub.
“Van die oomblik dat ek gehoor het Burnley stel belang, het ek my hart daarop gesit,” het Foster gesê. “Ek is so bly ek is hier. Dis ’n droom vir my.”
Hy kan dié naweek sy buiging teen Ipswich Town maak.
In die foto hierbo: Lyle Foster
Fotobron: Burnley FC