Weldoener se groot geheim op begrafnis uit

’n Plaasboer in ’n klein Amerikaanse dorpie het in die geheim lede van sy gemeenskap wat swaarkry se apteekrekeninge jare lank betaal. Die man, Hody Childress van Geraldine, Alabama, se weldaad het eers op sy begrafnis aan die lig gekom.

Die dorpie het nagenoeg 900 hardwerkende inwoners. Dit is die soort plek waar almal mekaar se name ken. Maar niemand het geweet Hody skenk elke maand $100 (sowat

R1 700) aan die plaaslike apteek nie. Dit is gebruik om onbetaalde rekeninge te vereffen.

Childress was vroeër in die lugmag, en het ook by ’n vliegtuigvervaardiger gewerk.

Hody se seun is in 1973 dood, en sy vrou in 1999. Sy het aan veelvuldige sklerose gely, en hy moes haar Vrydagaande by die trappe opdra wanneer hulle voetbal gaan kyk.

In 2012 het hy die plaaslike apteek besoek en onderneem om elke maand $100 te skenk aan “mense wat nie hulle rekeninge kan betaal nie”.

Volgens die apteekeienaar, Brooke Walker, het Childress gesê hy mag vir niemand vertel nie. “Sê net dis ’n seën van Bo,” het Childress gesê, en elke maand ’n tjek vir $100 kom aflewer.

Walker het die geld net vir noodgevalle gebruik, en die fonds het na duisende dollar aangegroei.

Toe Childress 80 was, het hy asemhalingsprobleme begin ontwikkel, en sy dogter, Tania, gevra om sy weldaad voort te sit. “Ek was verstom toe hy my vertel,” het sy gesê.

Hy is Nuwejaarsdag dood, maar sy besonderse nalatenskap leef voort.

Saamgestel deur Mashudu Mabila

In foto hierbo: Die weldoener Hody Childress is met sy geheim graf toe.

Fotobron: @aldotcom