‘Swanger’ babadief nog op vrye voet

Deur Karabo Rammutla

’n Booswig wat haar as swanger voorgedoen het, het ’n 26-jarige vrou, Nomsa Khoza, om die bos gelei en haar baba ontvoer. Die baba, Milton, was drie dae oud.

Nou verwyt Nomsa haarself omdat sy goedgelowig was, en wonder of sy ooit weer vir Milton in haar arms gaan vashou.

Om sout in haar wonde te vryf, antwoord die vrou die foon wat sy tydens die ontvoering gesteel het, en koggel haar.

Nomsa het die “ver swanger” boef verlede Dinsdag buite Phahameng Kliniek in Mamelodi, Tshwane ontmoet. Volgens die vrou sou sy binne die volgende paar dae geboorte gee aan haar eie baba.

“Sy het gesê sy het hulp nodig om geld by ’n supermark te trek sodat sy klere vir die ongebore kind kan koop,” het Nomsa gesê.

“Ek het het vir haar gesê ek is, soos sy, van die buiteland, en sou nie kon geld trek nie, aangesien mens ’n identiteitskaart nodig het. Sy het gevra dat ek in elk geval saamkom, aangesien sy pyn verduur.”

By die Tshwane Sentrum het Nomsa haar baba, babasak en handsak by die vrou gelos. “’n Sekuriteitswag het ingestem dat ek sy ID gebruik om geld te trek, en ek is terug na die vrou toe om die nommer te kry wat ek nodig gehad het. Sy was weg met my baba.”

Die sentrum se sekuriteit kon die die vrou betyds vang nie. “Ons het toe na die sekuriteitskameras se beeldmateriaal gekyk, maar sy het ’n hoed en ’n masker gedra. Ons kon nie haar gesig sien nie,” het sy gesê.

“Ek het my foon gebel en sy het geantwoord. Sy het gesê ek moet ontspan en my afgesny. Die vrou is siek.”

Sy het die saak by die polisie aangegee, en bel die vrou elke dag.

“Sy antwoord gewoonlik. Anders antwoord ’n man. Hulle lag vir my, sê ek moet ontspan en noem my ‘honey’, ‘sweetheart’ of ‘lovey’,” het sy gesê.

Die segspersoon vir die Gautengse Polisie, Kolonel Dimakatso Sello, het gesê hulle soek steeds die verdagte.  Sy is in haar vroeë dertigs en praat Zimbamwiese Tsonga.

Kolonel Sello het mense gewaarsku dat hulle nie hulle kinders by vreemdelinge moet los nie.

Enigeen met inligting kan die polisie by die volgende nommers skakel: Speurder-hoof-onderoffisier Mosekwane:  071 675 6774; Mamelodi Polisie: 079 890 7469, Crime Stop: 0860 10 111 of Crime line: 32211.

In die foto hierbo: Nomsa Khoza se seuntjie is ontvoer toe hy drie dae oud was.

Fotobron: Karabo Rammutla