Deur Linda Ximba
Koningin van Afro-jazz Judith Sephuma is gekies om op Vrydag 27 Januarie by die Hans Zimmer Live – ‘n spesiale konsert in Dubai – op te tree.
Die Limpopo-boorling is genader deur Lebo M, vervaardiger van die Lion King en Grammy-bekroonde, Tony-genomineerde musiekreus.
Sephuma en Lebo M sal saam met tweemalige Oscar-wenner en viermalige Grammy-wenner, rolprentkomponis en musiekvervaardiger Hans Zimmer optree.
‘n Opgewonde Sephuma het die nuus op Instagram gedeel en geskryf “Sooo… ek hou hierdie wonderlike nuus nou al vir ‘n paar maande vir myself. My groot boet @thereallebo_m het gebel en my gevra om by hom aan te sluit op die @hans.zimmerlive-toer en ek het die uitnodiging aanvaar, sonder om te weet hoe yslik dit is.
“Hierdie ervaring gaan my lewe verander. Dit is ‘n musikant se droom om saam met ‘n orkes van hierdie omvang te werk, om om saam met kunstenaars te werk wat so gerespekteer word soos Hans Zimmer Live, wat bekend is vir sy wonderlike werk as ‘n filmkomponis vir flieks soos Batman.”
Sephuma, wat meer as 20 jaar lank reeds as sanger haar brood verdien, het al die verhoog gedeel met bekende kunstenaars soos Oletta Adams en Chaka Khan; sy het saam met Michael Bolton gewerk en vir wyle president Nelson Mandela opgetree.
Na 40 jaar in die bedryf, is Zimmer bekend vir sy besonderse teatrale en gewilde wêreldtoere waar aanhangers sy komposisies lewendig kan geniet, uitgevoer deur ‘n volle orkes.
Op die foto hierbo: Judith Sephuma en Lebo M in repetisie
Fotobron: Facebook