Plumtree slimkop, 20, ontwikkel KI-kierie vir blindes se gebruik

Deur Linda Ximba

Tydens haar kinderjare het Blessings Ncube, van Plumtree in Matabeleland-Suid, die struwelinge beleef van haar blinde ouma wat gereeld deur mense besteel is.

Hierdie stand van sake het Ncube gemotiveer: sy het ‘n stukkende CD gebruik om ‘n sonkrag-aangedrewe kunsmatige intelligensie (KI) wandelstok vir blindes te bou.

Sy het haar uitvinding “The Keeper” gedoop.

“Ek het ‘n kierie so gerekenariseer dat dit modderige plekke, klipperige areas, slaggate en alle bewegende hindernisse tot op ‘n afstand van 100 meter kan opspoor. Stilstaande hindernisse word binne ‘n vyf-meter radius bespeur.

“Ek het verseker dat dit spraaksintese en interaksie met Google Maps bevat. Dit lê outomaties die kenmerke vas van enigiemand wat naby die gebruiker kom deur middel tegnologie wat skeletkonstruksie skandeer,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.

“Dit is hoe mense van diere onderskei word. Dit word gedoen op ‘n fisiese afstand van twee meter vanaf die gebruiker. Na outomatiese vaslegging, word die data gestoor.”

Ncube, 20, het gesê sy is aangevuur deur hoe mense, insluitend familielede, blinde mense behandel en hoe hulle hulself in die proses bevoordeel.

“Ek het regtig gewens daar was iets wat ek daaraan kon doen. Nadat ek gesien het hoe mense my ouma se inkopies steel, het ek as kind vir myself gesê dat hoewel ek nie haar sig kon herstel nie, ek haar gaan help,” het Ncube gesê.

“Dit is jammer my ouma is oorlede voordat sy die slimkierie kon gebruik,” het sy gesê.

Sy het gesê hoewel die KI-stok nie help om misdade soos diefstal te voorkom nie, kan dit ten minste die kenmerke van die skuldige vaslê.

“Ek voel daar is nog baie wat ek moet vermag. Daar is klomp probleme om op te los, maar hoewel ek te staan kom voor uitdagings met betrekking tot die ontwikkeling van die stok en ander idees, voel ek ook dankbaar vir die geleenthede wat ek het.”

Ncube is bekroon met die Oracle Academy-toekenning vir haar projek.

Op die foto hierbo: Blessings Ncube

Fotobron: Blessings Ncube