Junior Khanye se sokkerflaters lei tot amapiano song

Deur Linda Ximba

Terwyl hy op sy stukke was op die sokkerveld, was Junior Khanye die liefling van Kaizer Chiefs se juigkommando. Sy verbluffende vaardighede en charisma het selfs sy teenstanders betower.

Maar roem was sy ondergang, Hy het die pad byster geraak deur te geesdriftig partytjie te hou, en toe hy weer sy oë uitvee, was sy sokkerloopbaan daarmee heen.

’n Aanlyn TV-sokkerkanaal het hom verlede jaar as ontleder nader gehark. Hy hou nie terug nie, en kykers was uit die staanspoor gek na sy objektiewe insigte. 

Ongelukkig het sy sterk menings ander ondersteuners omgekrap. Hulle het gemeen hy was suurbek omdat hy sy gulde geleentheid as sokkerheld weggesmyt het toe hy ’n professionele speler by een van die grootste klubs in Afrika was. 

Nou het hy sy roem ingespan om ’n musiekloopbaan te loods en ’n amapiano song te skep wat volgende maand uitgereik word.

“Die titel is ‘Obrigado’ en ek het die talentvolle DJ Muzi betrek, met my en Mbali wat sing. Super en Sticks Beatz is die vervaardigers,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.

Hy het besluit om ’n song saam met dié twee vervaardigers te skep nadat hulle laasjaar by ’n sokkerkompetisie vir beroemdes opgetree het. 

“Cassper Nyovest, Big Zulu, AKA en ’n klomp ander sterre was by Bidvest Wits Universiteit-Stadion in aksie. Super en Sticks Beatz het gebel en gesê hoe talentvol ek is, en dat hulle in die toekoms saam met my wil werk.

“Die song was veronderstel om verlede jaar uit te kom, maar ons het nie tyd gehad nie, aangesien ek besig was met ander projekte,” het Khanye verduidelik.

Khanye, ’n boorling van Daveyton, glo die song gaan positief deur die publiek ontvang word, noudat hy terug in die kalklig is.

“Ek sing basies van my ervaringe as speler, hoe ek verbrou het, en hoe dankbaar ek aan God is dat Hy my nog ’n kans gegun het ,” sê Khanye, wat homself as wedergebore beskryf.

In die foto hierbo: Junior Khanye

Fotobron: Sowetan