Kwaai pastoor sê sepie oor heksery bewys DStv is duiwelswerk, skryf Sousa Jamba
’n Opname doen die ronde in Angola waarop ’n woedende pastoor ’n sepie genaamd Mahinga, wat op DStv gewys word, verdoem. “As die duiwel terugkeer aarde toe,” bulder hy, “sal die perskonferensie op DStv uitgesaai word!”
Dit is nie net die pastoor wat teen die sepie uitvaar nie; ander Angolese wysgere is bekommerd dat die verheerliking van towerkuns die nasie die verderf gaan insleep.
Dit is vreemd dat ’n fiktiewe uitbeelding van toordery sommige Angolese ontstig. Toe ek ses jaar gelede in die Angolese binneland gewoon het, was dit die ding wat almal aan die praat gehad het.
Ek onthou ’n storie van ’n arrogante jong man wat oneerbiedig teenoor die oudstes opgetree het, en geteister is deur ’n leeu wat net hy kon sien. Die oudstes het skynbaar hulle buitengewone kragte ingespan om hom die enorme leeu te laat verbeel.
In Bailundo, ’n nabygeleë dorpie, was daar ’n woonbuurt met ’n huis wat deur mooi meisies van Benguela en Lubango besoek is.
Hulle het glo ’n toordokter gespreek wat daarvoor bekend was dat hy negosiemiddels prakseer waarmee die meisies ryk mans kon lok. Hy was so suksesvol dat hy kredietkaarte aanvaar het.
Volgens dié storie het die toordokter ryk geword, sy vrou uitgeskop en met een van sy jong “pasiënte” afgehaak. Sy eksvrou het ’n paar kulkunsies van haar eie geken en sy volgelinge afgerokkel met beloftes van ryk mans… op motorfietse.
Daar is mense wat meen die pastore is net kwaad omdat die kimbadeiros met hulle meeding om volgelinge. Die pastore beloof dat gemeentelede wat hulle tiendes betaal met
karre, bevorderings by die werk en stewige bankrekeninge beloon sal word.
Een van die hoofkarakters in DStv se sepie is Charlesbois Poity, ’n voormalige Frans-onderwyser van Kongolese afkoms… en in die regte lewe ’n toordokter!
Hy is moontlik die gewildste een in Angola; hy tree gereeld in TV- en radioprogramme op. Hy het ’n winkel waar hy negosiemiddels verkoop wat rykdom en liefde verseker, en manne geneees wat nie tussen die lakens die mas opkom nie.
Nie ’n dag gaan verby sonder ’n storie oor heksery aan die nuusfront nie. Nou die dag het die polisie ’n vrou in hegtenis geneem nadat sy haarself vroeër in ’n luislang verander het, aldus haar buurvrou.
Betowerende stories. G’n wonder die predikers is die duiwel in nie.