Boris Johnson vergelyk die Russiese President, Vladimir Putin, met “’n vet seuntjie in Dickens” wat leë dreigemente maak oor die gebruik van kernwapens.
Die stelling het opslae gemaak. Boris meen Putin sal nie sy dreigement uitvoer om wapens van massaverwoesting te gebruik nie.
Johnson, hierdie week aan die woord by die Wêreld Ekonomiese Forum, het gesê as Rusland wel kernwapens sou gebruik, sou dit “die wêreldekonomie geheel en al verlam”.
Hy het gesê die wêreld moenie obsessief oor Putin raak nie, aangesien hy nooit kernwapens sal gebruik nie, al het hy herhaaldelik gedreig dat hy sou.
“Putin wil dit as ’n kern-skaakspel tussem Navo en Rusland uitbeeld,” het Johnson gesê, luidens ’n verslag in The Times.
“Twak. Hy gaan nie kernwapens gebruik nie. Goed, hy’s soos ’n vet seuntjie in Dickens. Hy wil ons op hol jaag. Hy wil hê ons moet daaroor nadink. Hy sal dit nooit doen nie.”
Johnson, wat self tot omstredenheid geneig is, het beweer wêreldleiers moet eerder hulle aandag daarop fokus om die Oekraïne te steun as om Rusland te probeer stuit.
“Dis moeilik genoeg om te raai wat in die Britse politiek gaan gebeur, wat nog te sê die Kremlin,” het hy bygevoeg.
“Waarop ons moet fokus, is om die Oekraīne te steun en aan Volodymyr Zelensky die gereedskap te verskaf wat hy nodig het om die taak af te handel. Hulle kan en sal wen. Gee hulle die tenks.”
Zelensky, die President van die Oekraïne, het die vergadering virtueel bygewoon en by Johnson se verklaring aangesluit deur te verklaar die wêreld het die oplossing om die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne te beëindig.
“Die entstof teen die Russiese tirannie is beskikbaar,” het hy gesê.
En dit wil lyk asof of daardie entstof beteken dat daar vinniger as aan die begin van die oorlog wapens aan die Oekraïne gelewer moet word.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In foto hierbo: Boris Johnson en Vladimir Putin
Fotobron: Financial Times