Ontvoersindikaat vasgetrek, maar nog werk wag

Deur Everson Luhanga

Ses lede van ’n vermeende ontvoersindikaat is Donderdag in hegtenis geneem, en ’n Ethiopiese sakeman is gered tydens ’n polisieoptrede in verskeie Johannesburgse voorstede.

Die sindikaat word daarvan verdink dat hulle Johannesburgse sake-eienaars ontvoer het en lospryse geëis het.

Tydens die optrede het die polisie ook op vyf weeldemotors beslag gelê.

Die nasionale polisie-segspersoon, Brigadier Athlenda Mathe, het gesê die optrede het bestaan uit verskeie eenhede, gelei deur lede van die Misdaad-Inligtingsdiens en die Georganiseerde-Misdaadeenheid, wat die sindikaat dopgehou en inligting ingewin het.

“Die sindikaat word met ten minste 16 ontvoerings in Gauteng verbind, waar daar lospryse geëis is,” het sy gesê.

Wat die polisie as ’n vastrek-sending beskryf, het die span, met die Spesiale Taakmag en gyselaar-onderhandelaars aan die spits, op verskeie adresse in Gauteng toegeslaan, in voorstede wat Jeppe, Helderwyk, Brackenhurst en Daveyton insluit.

“’n Sakeman wat op 7 Januarie ontvoer is, is by een van die persele gered en later met sy gesin herenig.

“Tydens die optrede het die polisie op vyf kragtige voertuie beslag gelê: twee BMW-sedans, twee Mercede-Benz-sedans en ’n Toyota Urban Cruiser.”

Mathe het gesê die span het ook op 20 selfone en 30 GPS-volgapparate beslag gelê.

Die land is die laaste tyd deur verskeie ontvoerings getref, en het skynbaar ’n aanloklike teiken vir internasionale ontvoersindikate geword.

Ian Cameron van Action Society, ’n organisasie ten bate van siviele regte, het gesê die arrestasies is ’n stap in die regte rigting, maar die land moet veel meer doen om georganiseerde misdaad te bekamp, onder meer ontvoerings, wat in groot stede styg.

Mathe het die nasionale polisiekommissaris, Generaal Fannie Masemola, aangehaal: “Ons boodskap is duidelik: die SA-Polisiediens infiltreer die sindikate wat vir die ontvoerings verantwoordelik is, en trek hulle vas. Hulle kan hulleself oorgee aan die polisie, of ons kom hulle haal.”

In die foto hierbo: Twee van die ses sindikaatlede wat Donderdag deur die polisie vasgetrek is

Fotobron: SA Polisiediens