‘Druip nie die einde van die wêreld nie’

Deur Nkhensani Mthombeni

Dr Sanele Gamede is op ’n sending om die lewens van matriekulante te red wat selfmoord oorweeg nadat hulle gedruip het, deur sy beweging #MatricUngazibulali (Matrieks, moenie selfmoord pleeg nie).

Meer as 900 000 matrieks het einde verlede jaar eksamen geskryf – drie persent meer as in 2021.

Dr Gamede het die veldtog begin nadat hy besef het baie matriekulante neem hulle eie lewens as hulle Graad 12 druip, uit skaamte en teleurstelling.

Sy passie spruit uit persoonlike ervaring. Hy het Graad 10 en graad 11 gedruip, en Graad 12 twee keer. Maar hy het vasgebyt en uiteindelik sy doktorsgraad in Kultuur- en Mediastudies verwerf.

Gamede reis die land vol en moedig matriekulante aan om nie moed te verloor nie. Hy oortuig ook ouers om nie hulle kinders uit te kryt as hulle druip nie, maar te motiveer om weer te probeer.

Hy het ook ’n Facebook-blad waarop hy leerders en hulle ouers aanmoedig.

Sinqobile Mkhwanazi, wat onlangs by die inisiatief aangesluit het, het aan Scrolla.Africa gesê die veldtog gee moed aan neerslagtige leerders.

Hy deel ook sy eie verhaal om ander te inspireer. Hy is nou dosent by ’n tersiëre instansie.

Sbudere Maludere van Tembisa, wat die Graad 12-eksamen in 2021 geskryf het, het nie goed gevaar nie.

Sy broer het hom van die sending vertel, en hy het daarby aangesluit. Hy het berading ontvang en is aangemoedig om sy eksamen te herskryf, en hy het lag-lag deurgekom.

Volgens die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Genootskap het soveel as 20% hoërskool-leerders probeer selfmoord pleeg.

Amper 10% van tienersterftes in Suid-Afrika is jaarliks aan selfmoord toe te skryf.

Enigeen wat hulp nodig het, kan die Selfmoord-Krisislyn by 0800 567 567 skakel.

In foto hierbo: Dr Sanele Gamede

Fotobron: Verskaf