Deur Everson Luhanga
Geweervuur is gewissel tussen die polisie en ses verdagtes wat Woensdagoggend probeer het om ‘n vragmotor te kaap wat elektroniese toestelle vervoer het in Midrand.
Nadat die stof gaan lê het, was vier verdagtes dood en twee ander het met ligte beserings daarvan afgekom.
Kolonel Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het gesê die owerhede het inligting van misdaadintelligensie ontvang dat ‘n vragmotor êrens in Midrand gekaap sou word.
“Die inligting is in werking gestel toe die geïdentifiseerde verdagtes se voertuie op Olifantsfonteinweg in Glen Austin, Midrand, opgemerk is.
“Toe die verdagtes besef dat die span op hulle gaan toeslaan, het hulle skote op die polisie afgevuur en ‘n hoëspoed-jaagtog en skietgeveg het gevolg.
“Vier verdagtes is noodlottig gewond en twee ander het ligte beserings opgedoen, en is op die toneel versorg,” het sy gesê.
Daar was verskeie misdaadtonele binne ‘n kilometer van mekaar af, almal op dieselfde stuk pad, waar die verdagtes in ‘n hoek vasgekeer, gedood, of in hegtenis geneem is.
Toe die geteikende koeriervragmotor deur gewapende polisie en ander veiligheidsbeamptes omsingel is, het die verdagtes, in drie afsonderlike motors, teen hoë spoed verkas.
Een voertuig het in ‘n melkvragmotor vasgery en ‘n ander het gebots met ‘n minibustaxi wat aan die Ivory Park Taxi Association behoort. Dit was nie duidelik of die taxi passasiers vervoer het toe die voorval gebeur het nie. Die polisie het op die derde voertuig geskiet en dit tot stilstand gebring.
Toe die Scrolla.Africa-span opdaag, het een verdagte wat die skietery oorleef het, met hande agter sy rug vasgebind gesit langs sy vriend wat doodgeskiet is.
Die oorlewende het vir meer as ‘n uur na sy dooie kollega sit en staar voordat ER24-noodvoertuie uitgestuur is om hom te behandel.
Die span wat by die operasie betrokke was het bestaan uit die polisie se Spesiale Taakmag en Nasionale Misdaadintelligensie, lede van die Gautengse Verkeersingseenheid, die Bad Boyz-sekuriteitsfirma, en lede van die Valke se Taktiese Operasionele Bestuursafdeling.
Mogale het gesê twee ongelisensieerde vuurwapens is op die toneel gevind.
Die gearresteerde verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Op die foto bo: Kegels is geplaas op die toneel van die skietgeveg
Fotobron: Everson Luhanga