‘n Groep vervet-ape in KwaZulu-Natal het die eerste primate in die wêreld geword wat leer hoe om ‘n raakskerm te gebruik.
Die deurbraak sal nou wetenskaplikes in staat stel om die intelligensie van nie-menslike primate te toets sonder om hulle in kampe aan te hou.
‘n Navorsingspan onder leiding van Erica van de Waal, wat die iNkawu Vervet-projek by Mawana Wildreservaat in KZN lei, het ‘n manier gevind om die ape te leer hoe om raakskermtegnologie te gebruik.
“Sommige van die dinge wat ons gedoen het om die stelsel te laat werk, is om die skerms te verklein en die grootte van die simbole te verander. Verder het ons die beste moontlike plek gekies waar die ape veilig sou wees van roofdiere, en ons moes ‘n manier vind om die toestel aan die internet te koppel,” het die gesamentlike primêre skrywer van die studie Tecla Mohr gesê, volgens ‘n Business Insider berig.
Hulle het dit gedoen deur ‘n 15kg boks met ‘n skerm en ‘n battery in ‘n boom te plaas en ‘n hotspot op te stel vir die raakskerm om te funksioneer.
Die apies was vasgenael voor die skerm. Nadat hulle die kontrepsie ondersoek het, het hulle aan ‘n blou vierkant begin raak en dit toe op die skerm rondbeweeg.
Om die saak nog meer aanloklik te maak, is mielies deur ‘n geut geskiet as beloning wanneer die ape ‘n patroon op die skerm gevolg het.
“Die leerder moet hul gebaar verstaan en assosieer met die boerpot wat volg,” lui ‘n verklaring deur die Departement van Ekologie en Evolusie aan die Universiteit van Lausanne in Switserland, waar Van de Waal ‘n assistent-professor is.
“Hierdie konsep bewys dat diere nie in gevangenskap gehou hoef te word nie, en sodoende word die potensiaal uitgebrei vir toepassing op ander spesies in hul natuurlike habitat.”
Die deurbraak mag daarop uitloop dat eienaars van mak ape vir hulle ‘n iPad met ‘n paar speletjies daarop kan gee om hul troetelaap te vermaak.
Ten spyte van die deurbraak het ‘n ander span navorsers van die einste Mawana Wildreservaat gesê ape wat raakskermtegnologie in die nabyheid van mense gebruik, mag gevare inhou.
“Daar is ‘n risiko van gewoonte aan die raakskerm wat oorspoel na aangehoue pogings om met skerms in ander kontekste te kommunikeer,” het die span gesê in laas November se Journal of Animal Ecology.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Die apies wat die raakskermtoestel gebruik
Fotobron: Business Insider