Jozi sit Nigeriese Konsulaat se ligte af

Deur Zukile Majova

Agterstallige kragverbruikers het maande lank hulle rekeninge afgelag, en hulle min gesteur aan dreigemente van regsaksie teen hulle, maar toe amptenare van Johannesburg City Power aan hulle deure klop om hulle ligte af te sit, het baie van hule skielik sakkevol kontant uitgehaal.

’n Kerk wat R740 000 geskuld het, het R200 000 byderhand gehad, en ’n kollege het daar en dan R1 miljoen betaal.

Die Nigeriese Konsulaat in Illovo, Sandton, wat meer as R600 000 skuld, se krag is afgesny nadat hulle geweier het om amptenare van City Power te ontmoet.

Die kragleweraars het probeer om binne drie dae R363 miljoen van die R4 miljard te verhaal wat inwoners, besighede en staatsgeboue skuld.

Isaac Mangena, segsman vir City Power, het gesê ’n hotel in Sandton het R1,1 miljoen geskuld, en ’n ander een R2,6 miljoen.

“Ons moet ons litte roer om skuld te eis, en ons kom agter die verbruikers het geld, maar weier om te betaal. Vreemd genoeg verander hulle gou van deuntjie as ons voor hulle deure opdaag.

“Ons was gister by Central Joburg College, wat omtrent ’n miljoen geskuld het, en hulle het daar en dan betaal.”

Mangena het gesê besighede wat Dinsdag afgesny is, was die volgende dag daar om groot depositos neer te sit en reëlings te tref om die res in paaiemente af te betaal.

In hierdie moeilike dae verloor City Power elke dag nagenoeg R3,6 miljoen tydens Fase 5 en Fase 6 beurtkrag.

Die meeste hiervan is te wyte aan duur kabels wat gesteel word terwyl die ligte af is, en vervang moet word. Ander kostes is sekuriteit, en transformators wat die gees gee.

Verder moet City Power hulle werkers oortyd betaal en tegnici vergoed wat nie verlof kan neem nie, omdat hulle aandag moet gee aan verskeie kragonderbrekings.

Daar is ook druk op City Power om nuwe infrastruktuur te skep in nedersettings wat nie elektrisiteit het nie.

Op die foto hierbo: City Power sny die Nigeriese Konsulaat se krag af

Fotobron: @CityPowerJhb