Deur Bathandwa Ndlangisa
Enhle Mbali Mlotshwa, Black Coffee se eksvrou, het CNN genader om ’n onderhoud met hulle albei te voer, waartydens hulle al hulle vuil wasgoed voor ’n wêreldgehoor kan was.
Dit kom in antwoord op die vervaardiger en Grammy-wenner DJ Black se aankondiging verlede Saterdag dat hy regstaan om ’n onderhoud op MacG’s Podcast and Chill te voer.
Enhle het Dinsdag op Instagram laat blyk sy het ontstellende e-posse ontvang, wat haar aangespoor het om die Amerikaanse nuuskanaal CNN te nader, met die oog op ’n onderhoud.
“Hierdie ou gaan te ver. Ek wil ’n onderhoud met ons albei in dieselfde vertrek by CNN hê. Die e-pos wat ek nou net gelees het! Iemand versprei stories! Dit word al hoe gevaarliker,” het sy gesê.
“Ek sal voortgaan met my normale lewe… as daar nog so iets vir my bestaan.”
Sy sê as hy oor alles wil praat, moet hulle so maak.
“Wees dapper genoeg om reguit met my te praat. Dis klaar ’n verleentheid. ’n Bespotting as jy my vra,” het sy op Instagram geskryf.
Die paartjie is in 2019 uitmekaar en is sedertdien in ’n smerige egskeiding gewikkel.
Scrolla.Africa het probeer om met Black Coffee te praat, maar hy het nie sy foon geantwoord nie.
MacG en Sol Phenduka kon ook nie bevestig dat hulle met Black Coffee ’n onderhoud gaan voer nie.
Die omstrede musiekvervaardiger Nota Baloyi, wat Enhle nog altyd ondersteun het, het aan Scrolla.Africa gesê hy het sy internasionale kontakte genader, ingeval CNN te lank sloer.
“Terwyl ek Enhle ondersteun het, het ek nog altyd gesê Black Coffee is ’n bose mens wat eendag aan die kaak gestel gaan word. Ek weet Enhle sal nie enigiets sê wat sy nie met feite kan staaf nie,” het hy gesê.
“Ek ken baie mense in die internasionale media wat bitter graag die onderhoud sou wou voer, maar Enhle Mbali wil hê dit moet CNN wees. As hulle nie opskud nie, is daar ander ander ewe belangrike nuusbronne wat dit sal doen.”
Op die foto hierbo: Black Coffee en Enhle Mbali
Fotobron: Drum