Die tuindwergie kan ’n troefkaart speel

Deur Lucky Maree

Die 2023 Rugby-Wêreldbeker het al hoe meer na ’n realiteitsprogram vir TV begin lyk, met die teks vooraf geskryf, maar een karakter het ontbreek: ’n joker in die kaartepak.

Eddie Jones gaan daardie rol vertolk: die onvoorspelbare element wat feitlik vir seker verrassings gaan bewerkstellig.

Raak dit die Springbokke? Moenie ’n fout maak nie. Waar Jones betrokke is, gaan dit almal raak.

Wanneer mens terugkyk na die laaste paar weke of selfs maande, met die kennis wat ons nou het, is mens amper verbaas dat jy nie die jongste verwikkelinge sien kom het nie. Dit lyk eintlik voorspelbaar.

Ná Eddie se gebrekkige welslae as Engeland se afrigter, was dit asof die burgery sy kop geëis het. Hulle het hom op sosiale media bespot en beledig. Die laaste strooi was toe die Engelse span op Twickenham uitgejou is nadat hulle teen die Springbokke verloor het. Hier te lande was die leedvermaak pure plesier.

Clive Woodward was die gepeupel se rasieleier. Hy was immers die man aan die spits toe Engeland se skitterspan, met Martin Johnson as kaptein, in 2003 die Wêreldbeker gewen het. Sy woord dra gewig. Maar was dit nodig dat hy die verwonde Jones skop terwyl hy lê? Mens sou sweer Jones het Engeland reguit die verderf in gelei.

Jones se vertrek het mense dadelik laat vra wat hy volgende sou doen, en hoeveel die lompe Engelse Rugbyvoetbalunie sou moes opdok om hulle pad uit die kontrak te koop.

Van die raaiskote was dat Jones die leisels by die Amerikaanse Eagles sou oorneem, of selfs ’n span in die florerende Australiese Rugbyliga sou afrig.

En dan is daar die uitnemende Dave Rennie, oral geliefd maar met ’n treurige vertoningslys as die Wallabies se afrigter: slegs 13 oorwinnings in 34 wedstryde.

Die oomblik toe Rennie met Jones vervang is, het almal gewonder hoe hulle dit nie kon sien kom nie.

Australië hoort beslis nie onder die rugbywêreld se klein vissies nie. Hulle het ’n trotse rugby-erfenis, wat puik vertonings by die Wêreldbeker insluit, en behoort veel beter te vaar.

Sou Rennie en Jones nie dalk kon saamwerk nie? “Dit sal nie gebeur nie,” het Rennie, ’n man van min woorde, laasweek gesê toe hy daarna uitgevra is.

Kenners stem oor een ding saam, en dit is dat Rennie sleg behandel is. Maar dieselfde kenners dink nie Australië sou die Wêreldbeker met hom as afrigter kon wen nie. Bygesê, hulle dink ook nie die Wallabies onder Jones staan ’n kans nie. En daar maak hulle ’n fout.

Hulle sê mos dit kan nie skade doen om ’n deur af te skop wat in jou gesig toegeklap is nie. Die Wêrelbekerdeur is in Rennie se gesig toegeklap. Maar is daar iemand wat daardie deur kan afskop? Dis waar die grinnikende tuindwergie inkom wat almal “mate” noem, asof hy nooit ’n voet uit Australië gesit het nie.

Daar is spelers in Australië, soos Allan Alaalatoa, James Slipper, die geliefde Nic White en Michael Hooper, wat hulle lewens vir hulle land op die spel sal plaas. Daar is talentvolle spelers soos Bernard Foley, en self die diaboliese drieling, Quade Cooper, James O’Conner en Kurtley Beale, wat deur die regte afrigter in wenners opskep kan word.

Is Eddie Jones dalk daardie afrigter?

Moet hom nie afskryf nie. Dalk speel hy ’n troefkaart of twee.

In die foto hierbo: Dave Rennie en Eddie Jones. Rug teen rug, maar nie sy aan sy nie.

Foto: Melbourne News